Welkom

jasmyn

Welkom by Stillewe.

Dis nog jong dae hier, maar ek hoop jy hou van wat jy sien.

Die blog sal handel oor die eenvoudige dinge in die lewe: lekker kos; ‘n goeie boek; tuinmaak; die bevrediging van wat die Engelse noem “the comforts of home”; kuiers saam met vriende en geliefdes; gesteelde oomblikke van stilte in ‘n frenetiese wêreld.

Ek weet nie wanneer ons almal so besig geword het nie. Maar ek dink nie dis volhoubaar nie. En ek persoonlik is moeg gejaag. Dus, die voorneme om dinge ‘n bietjie stadiger te vat. Die tyd te neem om dít wat ek doen, behoorlik te doen, met aandag en respek. Mindfulness, is die Engelse woord.

Ek spring weg met ‘n persoonlike projek. Oor die afgelope paar jaar het ek diep onder die indruk gekom van hoe belangrik dit is om seisoenaal te eet. Ja, dit is natuurlik beter vir die omgewing om seisoenaal te eet. (BAIE beter.) Maar my oorweging gaan ook, grotendeels, oor plesier. Ek is ‘n onbeskaamde lekkerbek en waarlik, vrugte en groente ens smaak net sóveel beter wanneer dit plaaslik en in seisoen geöes en geëet word, eerder as ten duurste ingevlieg van elders.

Dus, ‘n projek vir die jaar: hier by ons huis gaan ek probeer om vir ‘n jaar lank kos te maak wat hoofsaaklik deur die seisoene geïnspireer word. Die resepte kan almal onder die skakel In seisoen gevind word. Sommige is my eie skeppings, ander het ek by ervare kosskrywers geleen (ek is ‘n entoesias, geensins ‘n kenner), met krediet waar nodig. Almal sal een seisoenale bestanddeel as die kern of held hê, met soveel as moontlik van die res ook. En ek gaan probeer om baie daarvan self te kweek. (Wel, soveel as wat moontlik is in ‘n klein stadstuin in Woodstock, Kaapstad, wat dikwels onder die Suidooster deurloop …)

Tans verg die kosmakery heelwat beplanning en navorsing – maar die eindresultaat is, daagliks,  ‘n absolute plesier. Ons eet soos konings en gooi veel minder kos weg as voorheen. Wen-wen, sover. Vra my weer hoe dit gaan in November …

(Januarie 2015)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s