Winter-wonder#38: boerbone!

Jeanne:stillewe.com:winter38
U
iteindelik, ná maande se aandag en sorg en natlei en oplei, is die boerbone in my tuin gereed om geoes te word. Die pragtige wit blommetjies van vroeër het almal verdwyn, vervang deur groot, vet groen peule wat swaar aan die plante hang. Die boerboon is een van die groot plesiere van die laat-winter/vroeg lente-seisoen, en proe nooit beter as nou nie. (Terloops, ek weet die winter is nie meer tegnies met ons nie, maar vir die volgende paar dae lyk dit of daar bibberkoue weer op ons wag, so ek gaan vir oulaas ’n paar winter-wonders publiseer…)

Continue reading

Winter-wonder#29: heerlike koejawels

Jeanne:stillewe.com:winter29
Die arme koejawel kry (sover ek kan agterkom) nie baie liefde nie. Ek ken redelik min mense wat vrek oor dié wintervrug. Trouens, ek ken veel meer mense wat glo dit behoort glad nie toegelaat te word nie – iets met die reuk te doen. Maar ek is vierkantig aan dié makker se kant. Hy lyk dalk nie na veel nie, maar hy maak op daaroor in smaak en tekstuur. Ek hou ook van die feit dat dit so baie vesel en vitamine C bevat, strate meer as die gewone ou lemoen, wat beslis die beter deal het as dit kom by bemarking.

Continue reading

Winterwonder#13: warm winterslaai

Jeanne:stillewe.com:winterwonder13
Met hierdie slaai het ek bybedoelings. Ja, dit is ’n smaaklike gedoente. Die geroosterde botterskorsie, soetpatat en tamatie kom al te goed oor die weg en die blomkool kry behoorlik karakter danksy ’n titsel komyn. Dis vir my ’n mooi bord kos, en dan nog vol vertroostende geure.

Maar eintlik, eintlik, maak ek hierdie slaai in ’n doelbewuste poging om gesonder te eet in die winter. Want die winter-munchies is ’n vreeslike ding. Verbeel mens jou dit net, of is dit regtig so dat jou lyf vra vir meer, ryker en swaarder kos in die winter? Al waarna ek smag is pasta. En brood. En koek. En beskuit en pannekoek en warm poedings en allerande dinge wat heerlik en min of meer aanvaarbaar is in beperkte hoeveelhede, maar nie so goed werk as dit AL is wat jy die heeltyd wil eet nie.

So die slaai is my poging tot ’n gesonde winter-middagete, om die skaal so bietjie te balanseer, as’t ware. Gelukkig is dit regtig lekker, en vullend. (Die gevaar is natuurlik dat dit só gesond voel dat jy ná die tyd besluit: maar nou verdien ek mos poeding! Amper soos daai onbesonne gedagte wat jy kry as jy klaar gegym het: nou mag ek myself mos bederf! Ai tog. Of is dit net ek?)
Continue reading

Winter-wonder #4: kleurvolle wintergroente

Jeanne:stillewe.com:winterwonder4b
Oor die afgelope paar jaar se kosmaak het ek ’n diepe waardering ontwikkel vir die lekkerte en visuele plesier van ’n bont bak wintergroente. Volgens my seisoenale kaart is wortelgroente nou in seisoen – dit sluit in o.m. wortels, beet, soetpatat, witwortels (parsnips), rape (turnips) en ’n paar minder bekende kandidate soos knolseldery (celeriac) en kohlrabi, a.k.a die knolraap. Ek sien laasgenoemde al hoe meer in die winkels maar het nog geen idee wat mens daarmee doen nie.

In elk geval, die kleure van hierdie groentes maak my baie gelukkig – veral die reënboog-wortels wat mens deesdae te koop kry. Vir aandete vanaand het ek ’n kleurvolle mengelmoes van wortelgroentes bymekaar gegooi – veelkleurige wortels, witwortels en soetpatat, saam met rooi uie, kersietamaties en snee botterskorsie (wat in my boek in elk geval ’n wintergroente is).

Lekker gegeur met sout en peper, bedrup met olyfolie en, baie belangrik: die sap van een lemmetjie. (Lemmetjies is natuurlik ook nou in seisoen, saam met al die lieflike ander sitrusvrugte.) Ek kan nie oorbeklemtoon hoe baie die lemmetjiesap vir hierdie gereg doen nie – dit lig alles net so bietjie, brighten sou die Engelse woord wees, en verleen ’n plesierige soetsuurheid aan die hele storie. Jy sal nooit weer geroosterde botterskorsie en soetpatat daarsonder wil eet nie.

Dit het ook baie goed gewerk saam met die gebraaide vark-steaks wat ek daarmee saam voorgesit het, dié gemarineer in ’n mengsel van olyflolie, pomelosap, cayenne, komyn en bruinsuiker. Yum. Maar meer oor daardie gereg later. Intussen: hoera vir winter-wortelgroentes! Gaaf en aanwaarts.

Winter-wonder #3: pere in al hul ryp perfeksie

Jeanne:stillewe.com:winterwonder3
As ons nou vreeslik feitelik moet wees, is die peer eintlik ’n herfsvrug. Die seisoen strek van laat Februarie tot Junie in Suid-Afrika (so as jy daarna ’n ryp peer raakloop, weet jy hy kom uit ’n koelkamer of van oor die waters). 
Maar siende mens in Junie nog lieflike ryp pere kan koop, gaan ek die vrug eien as ’n winter-vreugde. Want dié buierige vrug – wat amper nooit ryp is wanneer jy daarna smag nie – is een van my gunstelinge. 

Deur die loop van die jaar al ’n hele paar keer met pere gekook en hier daaroor geblog. Gebraaide varktjoppies met pere; ’n alternatiewe paasgebak van sjokolade-muffins met pere en kaneel, en onlangs ’n dekadente donkersjokolade tert met vars pere en roomys. Mmmm. So ’n veelsydige vrug, met soveel nut in soet en sout geregte. En so lekker op sy eie, ook. Soms eet ons dit net so as poeding, in dun skywe gesny en afgewissel met happies goeie donker sjokolade. Heerlik.
Continue reading