Vrydag-vieringe met vonkelwyn & rose

Jeanne Calitz:stillewe:rooskelkieDit was ’n week van berge administrasie en eindelose bondels wasgoed, van honderde e-posse en beurtkrag, van vuil skottelgoed, fakture en frustrasie.

Dit was, in’t kort, ’n week sonder sjarme of glinster, en teen laatmiddag het ek besluit: genoeg. Laat ons bietjie bekoring by die dag voeg met ’n elegante skemerkelkie. Soos dit al duidelik op hierdie blog geword het, voel ek sterk daaroor dat Vrydae vra vir iets besonders in die drankie-kategorie, nie net jou gewone glas wyn nie. Dit vra vir iets met ’n bietjie sprankel, dan nie?

Deesdae kuier daar ’n bottel skelpienk-likeur in die kombuiskas, een met baie meer bekoring as wat sy borrelgompienk kleur beloof. Lanique is ’n roosblaar-gegeurde likeur wat blykbaar al eeue lank in Rusland geniet word, maar ek het dit eers onlangs ontdek. Verbeel jou vloeibare Turkse lekkers, en jy het die kern. Omdat dit so soet is, is dit ’n effens uitdagende drankie om te meng en geniet – maar vandag het ek ontdek dat ’n bietjie borrels presies is wat nodig is.

Die resep is doodeenvoudig, die resultate, skitterend.
Metode: voeg ’n halwe sopie Lanique in ’n vonkelwynglas en vul met yskoue MCC.

Die uiteindelike drankie herinner aan ’n MCC rosé, hoewel effens soeter, en natuurlik proe dit soos rose. Vonkelwyn en rose, in een teug. ’n Paar regte (organiese) roosblare kan werklik net bydra tot die romanse.

Gaaf, nou kan die naweek maar begin.

Die plesier van die tuiskoms

Jeanne Calitz:stillewe:tuiskoms
“Home again. You’ve been away awhile – a few days, a week, a year or two, it doesn’t matter. The lawn is unkept, the window box spills over in a tangle of weeds, the lettuce has bolted, the swing set hangs heavily …

The house has been empty, shuttered, braced against intrusion. You have the key. Inside all is dim, hushed. You take a few steps forward, drop the bags, and breathe in the slumber of your rooms. The dust has settled, but somehow the air is dense with stillness.

Perhaps you’re unable to stand the silence. Or perhaps you can no longer resist the embrace of rooms poised to take you in. You’re moved to break the spell. You breathe in the heavy silence for one last moment and you reach for a switch. Turn on the lights. You’re back. And you begin the tender work of transforming the rooms of a house into a home again.” – Dominique Browning, Around the House and In the Garden

Die plesier van die tuiskoms, so treffend beskryf deur die skrywer Dominique Browning, is iets om te koester. So wonderlik as wat dit is om op vakansie te wees, en so lief as wat ek is vir reis, is daar is darem net iets te sê vir die gemak, die bekendheid, die stille verwelkoming van jou eie huis.

Reeds Saterdag het ons teruggekeer van ’n heerlike avontuur, ’n weeklange kamp-vakansie in die Tankwa Karoo, en steeds bly die waardering vir die tuiskoms met my. Dit het ’n sekere soort roetine waarvan ek hou. Eers word al die vensters, gordyne en – waar moontlik – deure oopgemaak sodat daar vars lug en lig deur die huis kan stroom en die toestaan-gevoel verdryf. Dan word die ketel aangeskakel vir ’n koppie tee of koffie. Daarna volg ’n draai deur die tuin om te kyk hoe staan sake, want daar kan baie gebeur in ’n week. Miskien pluk ek ’n blom of twee, dalk ’n herfsroos en ’n takkie roosmaryn, vir ’n klein welkom tuis-ruiker. Uiteindelik word daar neergesak op die rooi bank in die woonkamer, voete op die koffietafel, koppie in die een hand, boek in die ander.

Veilig en tuis. Hoe lieflik die ervaring; hoe groot die voorreg om dit te kan sê.

Oor funksionaliteit, en skoonheid

Jeanne Calitz:stillewe:skoonheid1
Een van my nuwejaarsvoornemens vir 2015 is: om minder dinge te koop. Dis gedeeltelik uit ’n besparingsoogpunt – die lewe van ’n vryskutjoernalis is ekonomies baie onvoorspelbaar. Maar dit is grootlik in reaksie op ons era van massa handel wat net die heeltyd op jou gil om te koop! koop! koop!

Dit maak my gespanne. Al hierdie goeters. En die feit dat ek daaraan toegee, dat ek val vir die slim bemaking, die mooi verpakking, die onderliggende belofte van (ware, ewigdurende) geluk. Dit maak dat my huis propvol goed is.

Continue reading

Salige Sondae

jeanne calitz:stillewe:sondag1
T
wee soorte Sondae in my lewe. Die besige soort, wanneer dit skielik nodig word om allerande produktiewe dinge te doen sodat die res van die week goed kan verloop: wasgoed was, kos gaan koop, kos maak, opwas, dalk selfs ’n gym-sessie laatmiddag. Gewoonlik is ek teen die einde van hierdie soort Sondae redelik krapperig en uitasem – veels te min tyd vir rus en vrede, vir net rondlê en droom.

En dan is daar die ander soort Sondag. Die dae wanneer ons geen planne het nie, en doelbewus bepan om dit so te hou. My gunsteling soort Sondag, hierdie. ’n Dag van laatslaap, en koffie en beskuit in die bed (een van die lewe se groot luukses) wanneer jy wel wakker word. ’n Dag van nog so bietjie sluimer onder die kombers, of dalk bietjie lees, voordat die besef deurdring dat dit eintlik ’n pragtige dag buite is, en dat jy seker iewers moet opstaan.

Tyd, tyd. Hoe heerlik wanneer  jy tyd het om te besluit wat die dag dalk mag bring. Tyd vir nog ’n koppie koffie. Tyd om rustig deur die tuin te drentel, dalk ’n gieter of graaf te gryp en hier en daar te werskaf. Tyd genoeg om deur die vrieskas te loer en te sien, wonder bo wonder, daar’s ’n plathoendertjie; ’n paar patatte in die kas; genoeg groengoed vir ’n nederige slaai – geen rede om vandag winkels toe te gaan, ons het alles wat nodig is vir ’n rustige braai.

Tyd vir ’n middagslapie, dalk later. Vir ’n koppie rooibostee met die wakkerword. En teen skemer, wanneer die wind opkom en treurig om die huis se hoeke begin huil, en die Sondag-blues dreig-dreig om die dag se rus en vrede te ondermyn … dan’s dit tyd vir ’n bietjie musiek. Vrolike deuntjies wat die bloutes wegblaas – bietjie swing-musiek uit die 50’s dalk. Met die platespeler wat gewillig diens doen in die hoek, ’n boek in die een hand en ’n glas rooiwyn in die ander, het ek regtig geen rede om te kla oor hierdie uur, of hierdie dag nie. Inteendeel.