Dekadente sjokoladekoek

sjokoladekoek:stillewe

So, ek was nogals stil hier die afgelope ruk. Tjoepstil. Laat ek net sê: omstandighede. Maar wat beter om die stilte te breek as met ’n heerlike sjokoladekoek? Hierdie resep is nie myne nie, maar ek deel hom graag want dis regtig handig om so ’n maklike, smullekker resep in jou arsenaal te hê.

Die versiersel kan jy aanpas na gelang van jou bui en die geleentheid – die eerste keer toe ek dit gebak het, vir my man se verjaardag, het ek gehou by die dekadente grondboontjiebotter-versiersel (sien foto onder) van die oorspronklike resep. Vir daardie geleentheid het ek wel die resep aangepas om ’n drielaagkoek te maak, en toe heeltemal oorboord gegaan met Chuckles as versiering. Lekker, maar onmoontlik om te sny, en baie ryk. Nooit gedink ek sal dit sê nie, maar daar is seker ’n plek vir matigheid as dit by koek kom …

sjokoladekoek2:stillewe.com

Onlangs, vir ’n Kersfeesete saam met  vriendinne, het ek gevoel na iets fyners, so hierdie skepsel spog met ’n roomkaasversiersel gegeur met rooswater en ’n hele blok witsjokolade. (Ek het toe besluit om die matigheid vir ’n ander dag te los.) Geniet!

Die resep kom van Food Network oorspronklik, van die program Southern at Heart, en ek het dit so ’n raps aangepas. Dis die karringmelk in die beslag, dink ek, wat dit so ’n wonderlik klam affêre maak.

Bestanddele: 
1.5 k koekmeelblom
1.5 k suiker
3/4 k kakao
1 1/2 t koeksoda
1 t bakpoeier
3/4 t sout
3/4 k karringmelk
3/4 k espresso, effens afgekoel
1/4 k sonneblom- of canola-olie
2 t vanielje-ekstrak
2 groot eiers

Metode:
1. Verhit die oond tot 180 grade.
2. Voer twee 20 cm koekpanne uit met bakpapier of smeer goed met botter.
3. Sif die meel, kakao, koeksoda, bakpoeier en sout in ’n groot mengbak saam; meng nou die suiker by.
4. Meng die res van die bestanddele in ’n aparte bak en begin dan die nat mengsel geleidelik by die droë bestanddele voeg. Meng tot jy ’n donker, gladde beslag het.
5. Verdeel die beslag tussen die twee panne en bak vir 30 – 35 minute, totdat die bokant ferm voel as jy daaraan raak. (Ontspan, hierdie is nie een van daardie koeke wat gaan platval as jy dit waag om die oonddeur oop te maak nie.)
6. Verwyder van die oond en gebruik ’n vadoek om die bokante van die lae koek effens af/plat te druk – dit maak dit makliker om te versier. Laat staan eenkant om af te koel.

Vir die versiersel: 
Smelt 70 g witsjokolade in sowat 45 ml room. Laat dit afkoel en meng goed met een houertjie gladde roomkaas en 1 t rooswater tot glad. Sif nou geleidelik versiersuiker by (minstens 500 g) tot die versiersel die tekstuur van jou smaak het – vir ’n laagkoek moet dit redelik stewig wees, anders gaan die versiersuiker onhandig uitpeul langs die kante wanneer jy die twee lae opmekaar plaas. Een druppel pienk kleursel sal genoeg wees vir die vrolike pienk skakering waarna ek opsoek was.

Vir die grondboontjiebotter-versiersel, vervang die sjokolade en room met 2/3 k gladde grondboontjiebotter, en die rooswater met 2 t vanielje-ekstrak.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s