Vir oulaas ’n winter-wonder

Jeanne:stillewe.com:winterwonder40
S
o, hiermee die laaste winter-wonder, vir eers (en tot volgende jaar). Gegewe die feit dat ons die lente-dag-en-nag-ewening op 23 September gevier het, is die lente nou heelhartig met ons, dankie tog. (Hoewel ek seker is daar wag nog koue, selfs sneeuweer, op ons.) Maar voor ek my aandag na hierdie lieflike seisoen verskuif, wil ek net ’n oomblik stilstaan by daardie pragtige Kaapse winterblom, die aronskelk of varkoor.

Hiervan het ek slegs een enkele plant in my tuin, en moet erken dat ek dit vreeslik afskeep (lees: heeltemal daarvan vergeet tot die plant skielik begin blom laat-winter). Dis waarskynlik omdat daar heelwat ander goed aan die gang is in daardie betrokke blombak – ’n jasmyn wat bos gegaan het en al die aandag steel kom September, en ’n stokou wingerdstomp wat in die winter terugtrek tot kaal takke en in die somer geheel en al oorneem. Die stil, skaam aronskelk moet haar man staan om enigsins ’n oomblik in die son te kry.

Maar wanneer dit gebeur, is dit regtig iets besonders. So elegant en eenvoudig. So  mooi, besef ek onlangs weer, dat mens regtig meer daarvan in jou tuin moet hê. Dis immers ’n robuuste inheemse plant wat boonop goed aard in daardie moeilike skadukolle in die tuin. Met dit in gedagte het ek terstond vier nuwe jong aronskelke by die kwekery aangeskaf. Dis bedoel vir ’n ander ingeboude blombak, waar dit die ruimte sal deel slegs met ’n paar dwerg-sterjasmyne. Die resultaat, hoop ek, sal ’n immergroen kol in die tuin wees wat skielik, kom lente, ontplof in ’n massa van wit blomme, klein en groot, en sigbaar in die nag.

Ek hou veral van die laaste gedagte … ’n nagbedding, as’t ware.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s