Winter-wonder#38: boerbone!

Jeanne:stillewe.com:winter38
U
iteindelik, ná maande se aandag en sorg en natlei en oplei, is die boerbone in my tuin gereed om geoes te word. Die pragtige wit blommetjies van vroeër het almal verdwyn, vervang deur groot, vet groen peule wat swaar aan die plante hang. Die boerboon is een van die groot plesiere van die laat-winter/vroeg lente-seisoen, en proe nooit beter as nou nie. (Terloops, ek weet die winter is nie meer tegnies met ons nie, maar vir die volgende paar dae lyk dit of daar bibberkoue weer op ons wag, so ek gaan vir oulaas ’n paar winter-wonders publiseer…)

Ná ’n klein oes verlede jaar, met net ses plante in die tuin, het ek besluit om groot te gaan hierdie winter, en sommer 18 saailinge geplant. Dalk het ek bietjie oorboord gegaan, want tot my verbasing het elke laaste plant dit gemaak, sonder ’n wurm of luis in sig, en lê daar nou ’n welige oes voor.

(Dit is, terloops, ’n baie bevredigende plant om te groei. Die groente aard baie goed in potte, as jy dalk nie baie plek het nie, en verg nie veel behalwe ’n redelike hoeveelheid sonlig en bietjie plantkos elke nou en dan nie. Dis wel ’n dorstige plant wat glad nie van baie warm weer hou nie, so dit is beter om dit laat herfs of baie vroeg-winter te plant, en steeds gereeld water te gee. Die saailinge is reeds van April/Mei by kwekerye te koop, en as jy dit misloop, moenie bang wees om dit direk van saad te probeer kweek nie. Dis ’n robuuste plant wat goed en vinnig opkom, trouens, ek het nog geen ander groente in my tuin só goed en só vinnig sien groei nie.)

Die kulinêre moontlikhede is onbeperk, en maak my baie opgewonde. Dié vet boontjie is op sy beste hoe minder jy met hom lol. Ek verwyder dit bloot uit die peul, en gooi dit in kokende water vir ’n paar minute (3-7). Die kooktyd sal afhang van die grootte en varsheid van die boontjie – hoe kleiner en dus jonger die boon, hoe korter moet jy hom kook. As jy sien sy doppie (elke boon kruip weg binne ’n groen vlies) begin deurskynend raak, kan jy dit uit die water haal en uitdop. Toets dan sommer die tekstuur – dit moet sag wees, maar nie uitmekaar val nie. Die pragtige, lemmetjiegroen boontjie waarmee jy agtergelaat word, kort regtig net ’n skeut suurlemoensap, ’n druppel olyfolie, en ’n bietjie sout en peper. En as jy nou regtig groot wil gaan, sal ’n paar skaafsels parmesaan regtig goed afgaan.

Die gestoomde boerboon is absoluut heerlik in slaaie, of fyngedruk saam met baba-ertjies (en voorgesit saam met vis of lamsvleis). En dit kom ook baie goed oor die weg met enige gesoute ham, soos wat ek dit hier aangewend het. As jy self lus het om te eksperimenteer – ek het hierdie groente nog nie regtig in die winkels gesien nie, maar dit behoort beskikbaar te wees by plaasmarkte, vir minstens nog die hele maand van September. Geniet!

(Net ’n waarskuwing: dis baie raar, maar sommige mense is allergies vir boerbone. Die toestand word favism genoem en het te doen met jou herkoms; in ekstreme gevalle kan dit tot verlamming lei. Mense van suid Europese afkoms word soms daardeur geraak, so maak mooi seker van jou stamboom.)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s