Winter-wonder#29: heerlike koejawels

Jeanne:stillewe.com:winter29
Die arme koejawel kry (sover ek kan agterkom) nie baie liefde nie. Ek ken redelik min mense wat vrek oor dié wintervrug. Trouens, ek ken veel meer mense wat glo dit behoort glad nie toegelaat te word nie – iets met die reuk te doen. Maar ek is vierkantig aan dié makker se kant. Hy lyk dalk nie na veel nie, maar hy maak op daaroor in smaak en tekstuur. Ek hou ook van die feit dat dit so baie vesel en vitamine C bevat, strate meer as die gewone ou lemoen, wat beslis die beter deal het as dit kom by bemarking.

Ook as dit kom by resepte, is daar nie geweldig baie enthousiasme vir dié vrug te vind nie. Dit word nie eers genoem as ’n bestanddeel in my geur-bybel, Niki Segnit se Flavour Thesaurus, nie. (Andersins ’n baie handige boek – Segnit vergelyk en pas honderde smake om te help sien wat werk goed bymekaar, en wat nie.) Die grote Nigel Slater raak ook nie eers daaraan in sy groot vrugte-kookboek Tender Vol. II nie. Soek jy op die internet, is die resultate meestal beperk tot een van drie goed: koejawel-margarita’s met ’n onaptytlike kleur; koejawel-jellies -of strope met ’n onaptytlike tekstuur, of koejawels saam met hoender gebak, iets met ’n onaptytlike voorkoms (hoender en pienk vrugte, dit werk net nie).

Ek vermoed mens moet maar liewer maak soos die Afrikaners, en hou by koejawel as poeding-bestanddeel. Niks fout met ’n goeie ou stroopsoet, ingelegde koejawel met ’n skeut vla nie, byvoorbeeld. En verlede jaar het ek by Gaaitjie-restaurant in Paternoster die allerwonderlikste koejawel-poeding geëet: die geposjeerde vrugte (met ’n sweempje kaneel in die geur) was voorgesit met ’n klein geroosterde camembert van bokmelkkaas, met skaafsels tuisgemaakte fudge daaroor gestrooi. Genade, ek droom nou nog daaroor.

Dis egter bietjie ambisieus vir my huidige gemoedstoestand (en energievlakke). Nou soek ek ’n  lekker warm poeding: iets eenvoudigs, iets met ’n bietjie vla en, omdat ek dink die geure goed sal saamwerk, iets met bietjie klapper. Ná ’n bietjie gesnuffel op die interwebs kom ek uiteindelik af op ’n resep wat na ’n treffer lyk – ’n gebakte koejawel-en-klapperpoeding, via TASTE se webwerf. Klink na net die ding vir ’n koue Dinsdagaand. So verskoon my vir eers, ek het ’n paar koejawels om te gaan skil.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s