Winter-wonder#26: die klank van reën

(Geen foto van hierdie winter-wonder nie, dit gaan oor die klank, nie die voorkoms nie. En dis te laat in die aand om te sit en sukkel met opnames en audio-files …) Buitendien, teen hierdie tyd van die winter is ons almal in elk geval reeds goed vertroud met dié geluid. Ek praat egter nie van die klank van die stormsterk-reëns wat ons onlangs ervaar het nie. Ek praat van die ligter reën. Tradisionele, Kaapse, “sagte en deurdringende reën”, soos ons in aardrykskunde geleer het.

Hoe lieflik die geluid. Drup-drup-drup. So rustig en gerusstellend.

Dis die soort reën waarvoor die boere wag, as ek reg verstaan, omdat die stadiger tempo beteken al die water (en die bogrond) spoel nie summier weg nie, maar kry kans om in te sink. Dis die soort reën wat jou snags wegsus, die soort reën wat die tuin lawe en maak dat al wat blom en blaar is die volgende dag skoon en skerpgroen blink. Die soort reën waarvoor jy heimlik hoop op ’n Sondag ná middagete, voor jy inkruip vir ’n middagslapie.

Al opgemerk hoe die wêreld stiller raak wanneer dit begin reën? Dis asof alles ’n bietjie kalmer raak, stadiger beweeg, tot bedaring kom. Die stad se ewige gedruis is skielik gedemp, die bure se baba het ophou kerm, die buurt se honde het ophou blaf. Als maak plek vir die klank van die reën.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s