Winter-wonder#20: heel geroosterde hoender – pure trooskos

Jeanne:stillewe.com:winterwonder20a
Daar’s iets feestelik aan ’n heel hoender uit die oond. Dis min dat ek heel hoender maak (of ‘hoender helelyf’, soos dit in my man se familie naam gekry het), want die gereg is nogals moeilik om te sny en netjies voor te sit. En hy verg (in my ervaring) behoorlike voorbereiding en ’n fyn oog om te keer dat hy droogbak. Maar elke nou en dan, meestal op koue wintersaande, voel ek die behoefte om ’n heel hoender te salf met warm wintergeure – gemmer, roosmaryn, knoffel en suurlemoen, en baie daarvan. Dis pure trooskos, ’n heerlike skans teen die winterkoue.

Die resep het ek jare gelede gekry tydens ’n kookklas by die sjef Jenny Morris; sedertdien het ek dit so effens aangepas en ook al uitgedeel vir familie, ons roep hom sommer ‘suurlemoen-hoender’. Die oorspronklike resep was vir los hoenderstukke; as jy dit so verkies behoort so 8-10 stukke te deug by die geurmengsel hieronder.

Bestanddele:
Genoeg vir 4-6

1 heel hoender, vel aan, binnegoedjies verwyder
olyfolie
3 knoffelhuisies, fyngekap
sowat 2 t fyngekapte vars roosmaryn
sowat 2 t fyngekapte/gerasperde vars gemmer
sout en growwe pepper, na smaak
sap van een ryp suurlemoen

Metode:
1. Verhit die oond tot 180 grade.
2. Plaas die hoender in ’n oondbak en smeer dit met sowat 1 T olyfolie in.
3. Geur nou goed met sout en swart peper, vryf dit in die vleis in.
4. Meng die knoffel, gemmer en roosmaryn alles saam met so 1 t olyfolie; vryf die kruiemengsel in die hoender in – ook onder die vel, om dit lekker te geur.
5. Drup stadig sowat helfte van die suurlemoensap oor, bietjie vir bietjie sodat die kruie nie afloop nie.
6. Rangskik die groente van jou keuse rondom die hoender – ek het gekapte wortels, baba-aartappels, groenbone en rooi uie gebruik, bedrup met olyfolie en gegeur met sout en peper.
7. Bak vir sowat 20 minute ongesteur, drup daarna elke 10 minute nog suurlemoensap oor die hoender totdat die sap op is. Die hele storie behoort na so 50 minute tot ’n uur se rooster gereed te wees.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s