Winter-wonder#17: hoera vir Wimbledon!

wimbledon site
(Foto via wimbledon.com)
Wimbledon! Iewers oor die afgelope paar jaar het ek vergeet wat ’n hoogtepunt dié toernooi op die winter-kalender is. Die aanskoulikheid van die spel, die netjiese groen bane, die elegante wit uitrustings van die spelers, die flukse baljoggies, die gehoor se reaksies. Die verleidelike gedagte van bakkies aarbeie en room wat in die son verorber word.

Deel van die aantrekking, vir my, is die herinneringe wat Wimbledon van my skooljare herroep.

Dis Junie-eksamen, en Wimbledon is in volle swang. Tussendeur die studies is dit elke nou en dan tyd vir ’n blaaskans: ’n paar potte tennis voor die TV. Onder komberse en voor die verwarmer sit ons, vasgenael. Ons is tennis-kinders. Ma is ’n tennisafrigter; die sport het ons met moedersmelk ingekry. Al die groot toernooie word met aandag gevolg, maar Wimbledon is die kersie op die koek. Op die spyskaart is pannekoek (as ons gelukkig is), tee, stapels naartjies en lemoene, en deurlopende kommentaar en debat oor dié speler se swakpunte, daardie speler se sterk voorarm, ’n ander se mooi dien-aksie. Deurgaans word daar bespiegel oor wie die finale rondtes gaan haal. Ons ken al die spelers en hul agtergronde, ons het almal ons gunstelinge. Die eindstryde self is amper onhoudbaar opwindend, veral as daar die kans is dat ’n buiteperd dalk ’n gevestigde kampioen gaan uitstof.

Maar dis seker ’n dekade sedert ek ’n Wimbledon-toernooi met aandag gevolg het. Jare sonder ’n TV het sy tol geëis – ek ken nie meer die groot spelers nie, ek weet nie meer wie het ’n goeie kans om te wen nie. Vanjaar het ek vir die eerste keer in ’n baie lang tyd weer die toernooi met aandag begin gevolg. En wat ’n plesier is dit nie. Ek het vergeet wat ’n fantastiese geleentheid dit is, hierdie viering van uitmuntendheid.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s