Winterwonder#13: warm winterslaai

Jeanne:stillewe.com:winterwonder13
Met hierdie slaai het ek bybedoelings. Ja, dit is ’n smaaklike gedoente. Die geroosterde botterskorsie, soetpatat en tamatie kom al te goed oor die weg en die blomkool kry behoorlik karakter danksy ’n titsel komyn. Dis vir my ’n mooi bord kos, en dan nog vol vertroostende geure.

Maar eintlik, eintlik, maak ek hierdie slaai in ’n doelbewuste poging om gesonder te eet in die winter. Want die winter-munchies is ’n vreeslike ding. Verbeel mens jou dit net, of is dit regtig so dat jou lyf vra vir meer, ryker en swaarder kos in die winter? Al waarna ek smag is pasta. En brood. En koek. En beskuit en pannekoek en warm poedings en allerande dinge wat heerlik en min of meer aanvaarbaar is in beperkte hoeveelhede, maar nie so goed werk as dit AL is wat jy die heeltyd wil eet nie.

So die slaai is my poging tot ’n gesonde winter-middagete, om die skaal so bietjie te balanseer, as’t ware. Gelukkig is dit regtig lekker, en vullend. (Die gevaar is natuurlik dat dit só gesond voel dat jy ná die tyd besluit: maar nou verdien ek mos poeding! Amper soos daai onbesonne gedagte wat jy kry as jy klaar gegym het: nou mag ek myself mos bederf! Ai tog. Of is dit net ek?)

Warm winterslaai
Genoeg vir 4 as ligte middagete
Bestanddele:
1 groot soetpatat, ongeskil, in blokkies gesny
sowat 1 k botterskorsie-stukke
150 g blomkoolstukke
1 klein rooi ui, in agstes gesny
200 g ferm bella of klein rosa-tamaties, halveer
½ blikkie (of die hele blik, afhangende van jou smaak) kekerertjies.
olyfolie
sout en growwe peper
2.5 ml gemaalde komyn
knypie neutmuskaat
100 g jong spinasieblare of gemengde pak met spinasie, roket en bronkkors
Slaaisous: Meng 30 ml olyfolie met 15 ml balsemasyn, 15 ml vars suurlemoensap, 5 ml Dijon-mosterd, sout en peper na smaak, en so 15 ml grofgekapte pietersielie.

Metode:
1. Verhit die oond tot 180 grade.
2. Plaas botterskorsie, patat, blomkool, tamaties en uie in ’n mengbak.
3. Bedrup mildelik met olyfolie (so 2-3 E), geur met sout en peper en sprinkel met die ander speserye. Roer goed deur.
4. Bak die groente op ’n bakplaat vir so 45-60 minute of tot sag.
5. Rangskik intussen die slaaiblare op/in ’n slaaibak en meng die slaaisous soos aangedui bo.
6. Haal die groente uit die oond. Roer nou die kekerertjies versigtig deur sodat hulle bietjie van die hitte en geure kan absorbeer.
7. Rangskik die groente oor die blare en bedrup met slaaisous. Sit so gou moontlik voor, terwyl nog warm.

Nota 1: Jy kan ook ’n halwe, sagte avokado bysny aan die einde, of eenvoudig ’n groot sirkel fetakaas hieroor krummel.
Nota 2: Die slaai werk ook baie goed as middagete-by-die-werk vir die volgende dag of paar dae, indien wel moet jy natuurlik net die groente apart verhit voor jy dit saam met die blare voorsit.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s