Winter-wonder 11: koek! (en ’n warm vyekoek, daarby)

Jeanne:stillewe.com:winter11Die genot van ’n goeie sny koek is natuurlik nie beperk tot die winter nie. Tog het ek baie selde ’n vreeslik begeerte aan koek op ’n mooi somersdag. Maar sodra die koel wintersmiddae opdaag – dan’s dit ’n ander storie. Dan sal niks anders help nie as ’n ryk, klam, sagte sny gebak, verkieslik een wat warm geëet kan word.

Die storie agter dié spesifieke koek is dat ek ’n wyse gesoek het om die klein laatoes van adamsvye uit my tuin op te gebruik. Die boom het homself baie vreemd gedra vanjaar – die eerste van sy twee ‘werpsels’ vrugte is almal afgegooi (of dalk was dit die suidoos se werkinge), en die derde vlaag vrugte het sopas eers pers begin verkleur. Siende ons nie nou genoeg sonskyn het vir die vrugte om baie groot en soetryp te word nie, het ek gevoel die beste oplossing is om die soetheid uit te lok met ’n skoot hitte in of op die stoof.

’n Bietjie gesnuffel op die internet het ’n belowende resep opgelewer (op die webwerf bitesoutoflife.com), een wat ek effens aangepas het om plek te maak vir die gemaalde amandels wat ek gevoel het goed saam met die vye sou werk. Die gevolglike koek het ’n allerlieflike klam en digte tekstuur – ek dink dis die olyfolie se uitwerking. Geniet hom sommer so reg uit die oond, met ’n bietjie mascarpone wat luilekker oor die warm vye smelt.

Warm vyekoek
Bestanddele:

1 k suiker
2 groot eiers
¼ k olyfolie
⅓ k volroommelk
4 E sagte botter
½ t amandel-essence of vanielje-ekstrak (afhangende van jou voorkeur, nie almal is lief vir die marzipan-karakter wat die amandelgeur gee nie.)
1 k koekmeel
½ k gemaalde amandels
1 t bakpoeier
knippie sout
fyngerasperde skil van een suurlemoen
vars vye – sowat 1 k nadat jy dit in klein stukkies gesny het
mascarpone, om voor te sit (opsioneel)

Metode:
Verhit die oond tot 180.
1. Klits die eiers en suiker tot liggeel en donsig.
2. Voeg die botter, olie, melk en essence/ekstrak by en roer deur.
3. Meng die meel, amandels, sout, bakpoeier en suurlemoenskil in ’n aparte bak.
4. Voeg die nat mengsel hierby en roer deur tot goed gemeng.
5. Voeg nou so twee derdes van die vye by en roer versigtig deur.
6. Voer ’n koekpan met bakpapier uit, of smeer met botter, en skep die deeg in.
7. Versprei die oorblywende vye bo-op die deeg –  sommer net vir die mooi.
8. Bak vir so 40-45 minute tot die koek goudbruin begin verkleur.
9. Indien jy dit warm wil voorsit, bedien dit met ’n skeppie mascarpone. Indien koud, werk dit baie goed net so, en staan nogals lekker in vir ontbyt, saam met ’n goeie koppie koffie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s