Winter-wonder #3: pere in al hul ryp perfeksie

Jeanne:stillewe.com:winterwonder3
As ons nou vreeslik feitelik moet wees, is die peer eintlik ’n herfsvrug. Die seisoen strek van laat Februarie tot Junie in Suid-Afrika (so as jy daarna ’n ryp peer raakloop, weet jy hy kom uit ’n koelkamer of van oor die waters). 
Maar siende mens in Junie nog lieflike ryp pere kan koop, gaan ek die vrug eien as ’n winter-vreugde. Want dié buierige vrug – wat amper nooit ryp is wanneer jy daarna smag nie – is een van my gunstelinge. 

Deur die loop van die jaar al ’n hele paar keer met pere gekook en hier daaroor geblog. Gebraaide varktjoppies met pere; ’n alternatiewe paasgebak van sjokolade-muffins met pere en kaneel, en onlangs ’n dekadente donkersjokolade tert met vars pere en roomys. Mmmm. So ’n veelsydige vrug, met soveel nut in soet en sout geregte. En so lekker op sy eie, ook. Soms eet ons dit net so as poeding, in dun skywe gesny en afgewissel met happies goeie donker sjokolade. Heerlik.

Ek kan wel nog nie besluit wat om met hierdie drie ryp menere te doen nie. (Daar was tot baie onlangs vier …) Pere geposjeer in rooiwyn en kaneel, met sjokoladesous as metgesel? Daardie resep het al bietjie sy glans verloor. In die somer maak ek soms ’n ligter weergawe waar die pere gekook word in ’n vrugtige witwyn soos moscato, saam met bietjie heuning en kardemom. Dan sit ek dit voor met ’n witsjokolade-roomys. Hemels, maar te koud vir die senior winterweer wat ons hierdie week ervaar. Ook te koud, eintlik, vir ’n slaai van pere en ’n parmantige bloukaas. Pere en kaas, wat ’n wenkombinasie is daardie nie. Onlangs het ek die wonderlikste pasta in ’n Italiaanse restaurant geëet: vars, tuisgemaakte ravioli met pere en pecorino. Ongelooflik lekker. Maar bietjie gevorderd vir my om op ’n Woensdagmiddag skuins ná vyf te begin aanmekaar slaan.

Besluite besluite. Ek gaan raadpleeg die kenners. My kookheld Nigel Slater het in sy boek Tender vol II ’n hele hoofstuk oor pere. Hy beveel dit aan as goeie metgesel vir vark en eend, asook gesoute ham soos parma. Ander pasmaats sluit in sjokolade, karamel, vanielje, heuning en gemmer. Ek val swaar vir die skrywer Niki Segnit se voorstel (in haar fantastiese boek, The Flavour Thesaurus) om ’n alternatiewe brood-en-botter-poeding te maak met pere en amandel croissants. Amandel croissants! Liewe aarde. Dit klink amper onwettig lekker. Maar ongelukkig het ek nie nou amandel croissants in die huis nie. Dus, terug na Nigel, waar ek verdiep raak in sy resep vir ’n donkersoet koek met pere, esdoringstroop en muscovado-suiker. Tot my verbasing het ek al die nodige bestanddele in die huis … O jitte.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s