Winter-wonder #2: drama van die winter-horison

Jeanne:stillewe.com:winter2bEk het beplan om oor iets anders te skryf vandag, reeds die foto’s daarvoor geneem en alles. Toe gaan sit ek laatmiddag op die bank in ons sitkamer waar die kaggel al heeldag brand – dus die warmste vertrek in die huis op die oomblik. Terwyl ek sit en wonder oor hoe om te begin skryf, vang my oog die uitsig deur die glasdeure. En net daar verander my planne.

Want ek word vasgevang deur die besige drama van die winter-horison.

Ons huis in Woodstock bied die wonderlike voorreg van ’n gedeeltelike uitsig oor Tafelbaai. Ek sê gedeeltelik want ons moet links verby ons buurman se spitsdak kyk vir ’n bietjie uitsig oor die hawe, en regs verby vir ’n bietjie uitsig oor Bloubergstrand. Ek kla glad nie, dis ’n fassinerende uitsig, veral danksy die opset in die hawe wat die heeltyd verander. En vandag het ek my sterre gedank vir hierdie uitsig, want die winter-horison was op haar stukke: buierig, dramaties en aanskoulik. Dwingend, selfs. Soos om vir ’n vuur of die see te sit en kyk.

Jeanne:stillewe.com:winter2aDonker, vet reënwolke wat saampak, rustig verbydryf, later lui opbreek. In die verte sien ek hoe die reënbuie swaar uitsak, net om hier en daar onderbreek te word deur ’n flenter skaam laatmiddag-lig.

Terwyl ek sit en kyk, dring die besef deur dat dit uiteindelik opgehou reën het hier by ons. Ek loop uit, buite na die tuin, om te sien hoe staan sake ná die afgelope sowat 24 uur se winterweer. Maar ek loer net so skrams na die plante, want my aandag word weer aangegryp deur die winterlug. Al daardie skakerings van grys en blou; wit vlieswolkies wat fyntjies oor Tafelberg krul en dan wegsypel. Eindeloos herhaal die proses homself; hipnoties die uitwerking.

Ek word bewus van die stilte wat jy kry net ná ’n reënbui verby is. Al die stadsklanke voel nog effens gedemp. Die hadeda kom krysend verby, gevolg deur die stil, swiepende vlug van ’n groep renduiwe. Iewers in Woodstock, weet ek, is daar ’n man wat smiddae sy duiwe laat vlieg, en geduldig staan en wag op hul terugkeer.

Ek loop reg rondom die huis, intens gefokus op wat ek van die horison kan sien oor ons mure, oor die bure se dakke. Aan die westekant van die erf gekom kyk ek op en merk vir die eerste keer dat ons ’n hoek van Tafelberg van hier kan sien. Groot verbasing. Ek het nog altyd net vir die bome hier gekyk, spesifiek die groot mangoboom met sy reeks peste en plae en onvermoë om vrugte te dra. Nog nooit het ek gaan staan en rustig gekyk, en opgelet hoe mooi Tafelberg lyk soos nou, afgeëts teen die grou winterlug nie. Treurig van my. In die vyf jaar wat ons hier bly het ek sekerlik geweet van hierdie uitsig; het ek dit gesien maar ook nie gesien nie. Tot vandag. Danksy die aangrypende karakter van die winter-horison.

One thought on “Winter-wonder #2: drama van die winter-horison

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s