‘n Poging om die winter te bevriend

jeanne:stillewe.com:winterlove1

So, die eerste dag van Junie, en ek dink nie daar kan by enige iemand twyfel wees dat die winter baie beslis hier is nie. Ysig ysig ysig, en ek sien daar word sneeuweer voorspel.

Ek is nie ’n wintermens nie. Ek weet daar is baie sulke mense (ek is getroud met een), maar ek verstaan dit glad nie. Ek hou nie van koud kry nie. Ek hou nie van die kort dae nie, ek hou nie van die grou Kaapse weer wat beteken dat die son vir dae lank nie sy kop uitsteek nie. Ná ’n paar sulke grys dae raak ek skoon bedruk, en effens humeurig. Ek wens elke jaar die winter verby en tel die dae af tot by mid-winter op 21 Junie, wanneer die son draai en die dae weer langer raak.

Ek weet natuurlik ons winter is ’n lammetjie in vergelyking met ander lande. Daardie mense sal sê ek het niks om oor te kla nie. Maar ek woon nie daar nie, ek woon hier – ek ken wat ek ken. En in elk geval: ek het besluit dat ek nie hierdie seisoen oor die winter wil kla nie. Dit help net mooi niks en laat niemand beter voel nie. In stede gaan ek probeer om die winter te bevriend.

Dus, hiermee ’n nuwe projek: ek gaan myself oortuig om van die winter te hou. Van vandag af en oor die volgende paar maande gaan ek probeer dink aan 100 redes om van die winter te hou, om dit te geniet en te vier, selfs. Hoekom 100? Want soos almal weet kry ons soms nog sneeu tot in laat-lente. (En ek hou van ronde getalle.) So ek is heel gelukkig daarmee as die projek oorloop tot in September, daardie maand wat die afgelope paar jaar net in naam lente was, die flerrie. (En as die weer my vanjaar verkeerd bewys, dan is dit al te gaaf.)

Die winter-skrywes sal ek versamel onder die titel Winter-wonders hier op die blog. Ek het bietjie getob oor die naam. Hoewel die meestal klein plesiertjies waaroor ek gaan skryf seker nie altyd gaan kwalifiseer as wonderlik, of die wonderwerk waaraan mens dink as jy die woord “wonder” hoor nie, hou ek van die naam soos hy daar staan. Dit sê vir my lekker. En ek voel enigiets wat daarin slaag om die gemoed bietjie te lig, verdien tog die kwalifikasie.

So, 100 winter-wonders, hier kom ons.

En hiermee rede nommer 1:
Warm, melkerige drankies soos Milo 
Mens kan nie ’n koppie vuurwarm Milo, of warm sjokolade, of Horlicks, of watookal jou voorkeur is, waardeer in die somer nie. Jy moet dit in die winter geniet, jy moet die warm koppie tussen jou hande kelk en voel hoe die ryk vloeistof jou lyf van binne opwarm, hoe dit jou hele liggaam se temperatuur lig, al is dit net vir ’n klein rukkie. En as jy na daardie koppie Milo kan wegsink in ’n salige wintermiddag-slapie, wel dan soveel te beter. Ek het ook nogals ’n swak plek vir ’n koppie Chai tee. Met sy geure van kaneel en kardemom is Chai die ideale warm winter-drankie, hoewel ek nie onlangs ’n weergawe kon opspoor/aankoop wat nie ’n peper-smaak in jou mond los nie. Wel, dalk is dit iets lekkers om te ondersoek – hoe om jou eie Chai-tee van eerste beginsels af te maak. Gaaf en aanwaarts.

4 thoughts on “‘n Poging om die winter te bevriend

  1. Hierdie mooi inskrywing het my erge verlange na my huis en ons land en die Kaap (veral die Kaap in die winter…ek is 100% ‘n winter mens*) behoorlik laat opvlam. Die Griekse vroeg-somersdae was heel gaaf, maar nou kan ek nie meer wag vir die koue nie. Oe, en jou eerste winter-wonder: Milo, is my allergunsteling…dit laat my nou sommer ook na my Ma verlang wat ook ‘n baie lief was vir die winter en altyd vir ons as kinders Milo in die bed gebring het net voor ons gaan slaap*** Ek sien uit na jou winter inskrywings. Baie liefde! Marí

    Like

    1. Marí! Dis nou snaaks, en daar sit ek en droom van die pragtige turkoois-strande waar julle nou is 🙂 maar ek is bly jy hou van die post. Sien uit na jul terugkoms, hier wag ‘n ordentlike winter op jou!

      Like

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s