Pure vreugde: ‘n Kookklas in Florence

Jeanne:stillewe.com:firenzeclass3
Gister het ons die plesier van ’n kookklas in Florence gehad. In ’n stad soos hierdie, bekend vir sy uitstekende vars produkte en bobaas restaurante, is daar geen tekort aan kosskole en kort kookkursusse nie, maar die meeste van hulle – altans die skole wat ek genader het – vra ’n plaas se prys vir ’n dagkursus.

Ons het egter goed reggekom danksy die eienaar van ons woonstel, wat gereeld sulke klasse vir haar gaste reël onder die leiding van ’n plaaslike sjef-vriendin van haar. So gebeur dit toe dat die vriendelike, gesellige Paula gisteroggend 09:00 by ons woonstel opdaag, sak en pak belaai met potte en panne en die nodige inkopies vir die dag se spyskaart. En wat ’n spyskaart was dit nie.


Jeanne:stillewe.com:firenzeclass4
Ons het begin met die voorbereiding van ’n ragu-sous om by pasta te geniet (foto bo, ons ken dit as bolognaise, hoewel ons weergawe baie meer tamatie-agtig is), want hoewel dit die derde gang van die maaltyd sou vorm, moet die ragu bykans twee ure lank kook. Terselfdertyd het drie groot aartappels in gesoute kookwater begin kook sodat ons dit later kon fynmaak vir tuisgemaakte gnocchi (foto onder).

Jeanne:stillewe.com:firenzeclass1
Intussen het Paula ons aan die werk gesteek om mascarpone te roer, eiers te klits en vingerbeskuitjies in koffie te doop vir die tiramisu wat ons vir nagereg sou eet. Voorts het ons ’n stewige ontbeende varklende met knoffel, roosmaryn en salie bewerk vir dié geroosterde snit wat die hoofgereg sou vorm (foto onder).

Jeanne:stillewe.com:firenzeclass5
En laastens, in ons agterstevoor maar vrolike proses, het ons tamaties saam met knoffel en basilie fyngekap (foto heel aan die begin), en hoenderlewertjies opgekook saam met uie, wortels, seldery, kappertjiesade en ansjovis, en die hele lot fyngemaal vir hoenderlewerpatee op geroosterde broodjes (crostini).

Die ding van Italiaanse kos, kom ek agter, is dat jy eintlik min bestanddele benodig. Die resepte is meestal baie eenvoudig. Die sleutel lê in die gehalte van daardie bestanddele – dis top-klas vars en meestal seisoenaal. Al hierdie geregte is baie maklik om te maak, hoewel dit natuurlik bietjie inspanning of tyd verg in gevalle soos die gnocchi. Maar dis die moeite werd – daar is net nie ’n vergelyking tussen die smaak van vars, tuisgemaakte gnocchi (doeksag en veerlig) tenoor dié wat jy in ’n pakkie in die winkel (rubberagtig en swaar) sal koop nie.

Liewe aarde, ons het gesmul. Die crostini-broodjies was reeds al ’n hoogtepunt. Die ragu-sous was propvol geur, die gnocchi is vir enkele minute gekook en toe voorgesit saam met vars-vars basilie-pesto. Die vark het Paula in dun snye gekerf en net so voorgesit, geurig en nog bietjie pienk – ek het nog nie sulke varkvleis geëet nie. (Alles afgesluk saam met dít wat oorgebly het van ’n bottel Chianti nadat Paula sowat ’n koppie daarvan by die ragu laat inkook het.)

En die tiramisu – wel dit was so dromerig lekker dat ons uiteindelik vir Paula ook kon oortuig om aan te sit en saam te eet (foto onder).

Jeanne:stillewe.com:firenzeclass7
Ek sien vreeslik daarna uit om tuis te kom en van hierdie resepte self te probeer. Intussen is daar seker nog so twee maaltye se oorskietkos om baas te raak. Nie dat ons hoegenaamd kla nie, natuurlik.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s