Europa deel 2: die verleiding van Toskane

Jeanne:stillewe:lucca1
So, ná ’n ongelooflike paar dae in Parys is ek nou in Florence in Toskane, waar twee vriendinne by my aangesluit het. Wat ’n fees is dit nie. Ons huur ’n woonstel in die middel van die dorp, stapafstand van die Duomo, en gebruik dit as basis om die streek te verken.

Gister het ons die trein gevat na die klein, lieflike dorpie Lucca. Te heerlik. Daar is minder toeriste as in Florence. [Ek staan telkens verstom oor die massas mense wat jy hier in Florence moet trotseer. Goed, ons tel ook as toeriste, maar ek weet eerlikwaar nie hoe die Italianers hul sin vir humor en gasvryheid behou onder hierdie konstante vertrapping nie.] In elk geval, Lucca: bekend vir onder meer sy lekker kos, pragtige dorpspleine en die stadsmuur wat reg rondom die oudorp loop.

Jeanne:stillewe.com:lucca2
Dis die soort dorpie wat ideaal is vir fietsry. Al langs die nou straatjies deur trap ons, verby kerke, langs kanale af, onder deur brûe en verby die mooiste tuine. Die hoogtepunt is egter om bo-op die stadsmuur te ry, wat vir jou ’n birds-eye uitsig oor die dorpie gee, asook oor die res van Lucca buite die oudorp se mure, en oor die Toskaanse heuwels in die verte.

Ek verkyk my aan hoe geil die plante hier groei. Ek het nog nooit malva’s sien groei soos hier nie, of rose of sterjasmyn. Digte bosse orals waar jy kyk, wat gretig teen mure opgroei of teen tralies afrank. Die jasmyn is veral volop en elke dan en wan word mens oorval deur die soet, bedwelmende geur wat die trosse fyn wit blommetjies afgee. Vir my is dit, meer as enigiets, die reuk van Toskane, en ek begin klaar planne maak vir ’n paar aanplantings as ek by die huis kom.

Gister se hoogtepunt het ingesluit:
– Die luilekker fietsry deur die dorp. Ek besef al hoe meer dat fietsry (in ’n fiets-vriendelike omgewing) een van my gunsteling-dinge is en ook een van die beste maniere om ’n plek te leer ken. Ons het ons fietse gehuur by ’n klein, vriendelike Italiaanse omie wat nie ’n woord Engels kon praat nie, maar vir ons afslag gegee het, asook die enkele, pragtige groot aarbei wat aan die enkele potplant buite sy winkel gehang het.
– Middagete: By die verwelkomende eetplekkie Trattoria da Leo het ons gesmul aan carpaccio met roket en gerapserde parmesaan, gnocchi met ’n geurige sous van dennepitte en tamaties, en behoorlike al dente pasta met tamatie en spek. Afgesluk met ’n gawe bottel prosecco. Mmmmm.
– Teen laatmiddag het ons begin rondsoek vir ’n aperitivo. Die opsoek van ’n skemerdrankie vroegaand, gewoonlik aperol met prosecco en sodawater, is baie gewild hier, en die meeste wynkroeë wat dit aanbied bederf ook hul klante met klein happies snoepgoed om saam met dit te geniet.
– Vir aandete het ons sommer ’n deli-piekniek beplan om op die trein oppad huistoe te geniet. Ons koop snye gesoute ham en salami, groot vet groen olywe met ’n raps rissie, vars, romerige mozzarella, en klein tamaties nog aan die stingel. Die gawe vrou agter die toonbank help vriendelik en geduldig, verskaf bordjies en eetgerei vir die eetslag, en gooi sommer ’n handvol koekies gratis en vir oulikheid in. Ek is mal oor die Italianers.

Op vandag se agenda: ons sal nounou iets lekkers vir middagete gaan opsoek, dan dalk ’n draai by die parfuumplek Santa Maria Novella – blykbaar die oudste perfumery in die wêreld?! – en wie weet, miskien het ons tyd en krag vir ’n nog ’n aperitivi kom skemer …

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s