Parys en die groot genot van mense-kyk

Jeanne:stillewe.com:pinktea
Vandag het ek, so tussendeur al die stoppe op my moet-sien-lysie, kans gekry om een van my gunsteling aktiwiteite van ’n stadsvakansie uit te voer: om vir ’n ruk lank by ’n venster-toonbank (gewoonlik in ’n koffiewinkel, vandag in ’n byderwetse klein kroeg, vandaar die foto van die drankie) te sit en te kyk hoe die wêreld verbygaan.

Eindeloos fassinerend, en een van die lewe se groot plesiere. Ek is ’n skaamtelose people watcher, en in Parys voel ek veral tuis met hierdie gewoonte, want die mense hier maak geen geheim daarvan dat dít ook is wat hulle besig is om te doen nie. Hulle gaan sover as om al die stoele op die sypaadjies van die straatkafees in rye te pak en na die straat toe te laat front. So, daar het jy dit.

En hier is so geweldig baie om te sien. Ek probeer hard om die beelde van interessante mense wat ek sien, te bewaar. Die bejaarde tannie met die eksie-perfeksie roomkleurige jas en stewels wat rondloop met ’n skelpienk bob-haarstyl en ’n onnutsige glimlag. Die groot man, seker in sy vyftigs, wat verby stap met jong Jack Russell, die hondjie haastig en beurend, so opgewonde oor alles, die man met ’n verdraagsame glimlag op sy gesig. ’n Geval van: Hond stap met sy man. En die stokou, waardige omie wat met geboë skouers en ’n beret op die kop verbyskuifel met sy baguette onder die arm. Dis soos iets uit Amelie.

Ook is daar ’n speletjie wat ek geniet om hier te speel. Ek noem dit: Spot the Parisian. (Want hier is natuurlik baie toeriste ook, en vele buitelanders wat in Parys werk. Blykbaar is net 2 van die 8 miljoen mense wat vandag in Parys woon, oorspronklik van hier.) Dis nie ’n moeilijke speletjie nie. Die Parysenaars is buitengewoon herkenbaar. Daar is ’n sekere uniform wat gevolg word, vir beide vroue en mans. Ek vind dit nogals vreemd, gegewe die stad se modieuse onderbou, maar nou ja.

Die vroue (en nou praat ek van werkende vroue, nie kinders of studente of bejaardes nie, hierdie groepe het weer eens hul eie uniform) dra op die oomblik almal die mooiste enkelhoogte-stewels. Hulle dra langbroeke (nie juis jeans nie) of rompe saam met netjiese maar informele kraaghemde en baadjies, of elegante jasse. Die hare is skoon maar net so effens deurmekaar (tousled is die mooi Engelse woord), die grimering baie subtiel, en van juwele sien ek weinig. Dis alles baie mooi en effens intimiderend. En tog effens gedemp, as ek nou moet eerlik wees.

Die mans dra jeans met ’n kraaghemp en ’n netjiese baadjie (of blazer, soos my ouma altyd gesê het). Of hulle dra die fynste van fyn snyerspakke. Ongeag van watter kategorie hulle val, kan jy seker wees van twee dinge: die hare het ook daardie effense tousled voorkoms. En die skoene is punt in die wind van spoggerigheid, blinkgepoetsde leerskoene met skerp punte. Die mans is, van wat ek tot dusver gesien het, meer pronkerig as die vroue in hul kleredrag.

Dit laat my nogals dink aan die natuur en voëlspesies, waar die mannetjies se vere helderder is en meer kleur het as die wyfies. Ek wonder wat die rede hiervoor sou wees? Fassinerend.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s