Sjokolade-en-peerpoeding vir ‘n koue herfsaand

Jeanne Calitz:stillewe:chocolate pear pudding
Nee aarde, ’n koue dag soos vandag maak my lus vir net een ding, en dit is ’n warm winterpoeding. Spesifiek is ek al heeldag lus vir iets ryk, iets met sjokolade. Verder het ons ’n paar pere gehad wat hier rondlê en nie meer so kraakvars daar uitsien nie, so ek wou hulle ook sommer in die konkoksie inwerk.

Toe ontdek ek hierdie heerlik eenvoudige resep vir ’n warm, sponserige sjokoladepoeding op BBC Food se webwerf, en toe gaan dinge sommer net goed. Sjokolade en pere, soos ons al via Lindt geleer het, is uitstekende bedmaats. ’n Lekker seisoenale poeding (pere is nou in seisoen) wat die hele huis met donker sjokoladegeure sal vul, is wat jy hier kry. Ek het die gevlokte amandels van die oorspronklike resep uitgelaat (nie lus vir iets krakerigs nie), en bietjie kaneel bygevoeg vir ’n ekstra aks winter-karakter.

Warm sjokolade-en-peerpoeding
Lewer minstens 8 porsies

Bestanddele:
200 g sagte botter
300 g strooisuiker
4 groot eiers
50 g kakao
75 g koekmeel
100 g donker sjokolade, in stukkies gekap
3 ryp pere, geskil, ontstronk en in die lengte in lang skyfies gesny
kaneel

Metode:
1. Smelt die botter en roer die suiker by.
2. Klits die eiers met ’n vurk en roer dan bietjie vir bietjie by die bottermengsel by.
3. Sif die kakao en meel by en meng goed. Roer die helfte van die gekapte sjokolade by.
4. Smeer ’n oonbak of tertbak uit met botter en vul met die deeg.
5. Rangskik die pere na wense in die deeg.
6. Sprinkel bietjie fynkaneel (net so kwart teelepel) of kaneelsuiker oor na smaak.
7. Sprinkel die res van die sjokolade losweg bo-oor.
8. Bak vir 30 minute teen 180 grade, totdat die gebak effens begin oppof. Loer en toets: as dit na 30 minute nog baie loperig lyk, kan jy dit terugsit vir ’n minuut of wat – maar nie te lank nie, dis veronderstel om sulke ‘pockets’ loperigheid te hê.
9. Sit dadelik voor saam met room, vanielje rooms of mascarpone.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s