Bonus uit die tuin – die laaste eiervrugte & ‘n lekker kerrie

Jeanne Calitz:stillewe:laaste eiervrug
Dit bly vir my verstommend hoe vinnig dinge in die tuin kan verander as jy vir ’n oomblik wegkyk. Terwyl ek besig was met ander tuindinge, soos blombolle en saadjies en saailinge plant, onkruid uittrek en kompos inwerk, het die een oorblywende eiervrugplant in my tuin doodluiters sy gang gegaan. Ek het gedink hy is klaar gedra vir die seisoen, my nie veel aan hom gesteur nie, veral omdat hy bietjie oor die muur begin lyk het, en toe ek weer onlangs kyk sien ek daar is nie minder nie as vier enorme en perfekte eiervrugte wat op my wag.

Wat ’n lekker verrassing, en net wat ek nodig gehad het, want in die week het vegetariese vriende by ons kom kuier. So dit was die perfekte motivering om ’n lekker groentekerrie saam te slaan. Die resep kom oorspronklik van BBC Good Food, ek het dit redelik aangepas vir my behoeftes. 

Wild & wakker groentekerrie
Genoeg vir 4
(Ek noem dit wild en wakker omdat die resep baie verwelkomend is, jy kan amper enige groente hier indompel en dit behoort lekker te werk. Plus hy het redelik baie rissieskop.)

Bestanddele:

2 groot eiervrugte, geskil, in dik skywe gesny en dan in kwarte verdeel
2 uie, geskil en fyngekap
1 t geel mosterdsade
1 t medium kerriepoeier
1 t koljander
2 t borrie
2 t garam masala
2 klein rooi brandrissies, fyngekap
1-2 t sout (na smaak)
1 blikkie klappermelk
1 k blomkool, stronk verwyder en in happiegrootte ‘boompies’ verdeel
1 blikkie kekerertjies, afgespoel
4-5 stewige tamaties, in kwarte gesny

1. Braai die eiervrugstukke in bietjie olyf- of sonneblomolie totdat dit lekker verbruin het aan weerskante. Skep uit en hou eenkant.
2. Braai die uie in sowat 1 T olie tot deurskynend, voeg nou die mosterdsade,  kerriepoeier, koljander, borrie en garam masala by en braai vir so minuut of wat tot die geure lekker opslaan.
3. Voeg die brandrissie by, gevolg deur die sout, klappermelk en 125 ml water.
4. Roer deeglik tot alles gemeng is; voeg nou die blomkoolstukke by.
5. Laat prut oor medium hitte tot die sous begin verdik, so 15-20 minute.
6. Voeg nou die eiervrugstukke en tamaties by en laat prut vir so 5 minute.
7. Roer die kekerertjies deur en laat prut vir minuut of wat tot dit deurgaar is.
8. Sit voor saam met basmatirys en garneer met vars koljander.

* Dis ’n baie lekker resep om groente ‘weg te werk’ – skyfies wortel en murgpampoentjie sou ook goed afgegaan het hier, en jy sou die eiervrug kon vervang met stukkies geskilde soetpapat (laasgenoemde moet net veel langer kook as die eiervrug – gooi dit saam met die blomkoolstukke by.)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s