Perfekte piesangbrood

Jeanne Calitz:stillewe:piesangbrood
D
ie titel van dié skrywe verwys nie na my bakvermoëns nie (daarvoor het ek veels te veel flops op die CV) maar wel na die kaliber van die resep – ’n bitter eenvoudige maar wonderlik lekker resep wat ek by my ouma Oumie geërf het.

Dit is gewoon … perfek. Ek het dit al so baie gebak ek ken die bestanddele uit my kop, en maak nie saak hoe haastig ek is of wat die dag bring nie, hierdie outjie kom altyd heerlik uit. Flatervry, sê ek jou. Die voordele is legio: die deeg vat skaars 15 minute om te meng; dis ’n goeie manier om papperige piesangs op te gebruik; jy kan iets anders gaan doen terwyl die broodjie sy 45 – 60 minute neem om gaar te bak (niks se benoude dophou deur die oonddeur hier nie); dis ideaal vir ’n blitsvinnige koek-en-koffie óf vir daardie dae wanneer jy net nie kans sien vir jou gewone, gesonde veselpap-ontbyt nie … Dis regtig heerlik, op so half ’n outydse manier. Hou maar jou kaneel, jou sjokeladestukkies, jou gekapte okkerneute. Hierdie broodjie is pure piesang en ek is mal daaroor. En hier in die herfstyd is dit darem net ’n plesier om iets koekerigs in die huis te hê.

’n Wenk: dit klink dalk grillerig, maar hoe papper die piesang, hoe beter die broodjie. Dis die sagte vrugte wat aan die gebak sy klamheid en sy goue kleur verleen; daardie verlate paar piesangs in jou vrugtebak se skil kan al pikswart wees, en hulle sal steeds uitstekend werk in dié resep.

Lewer een broodjie van sowat 25 cm lank
Bestanddele:
2 k koekmeel
1 k suiker
2 medium tot groot eiers
3 piesangs
120 g sagte botter
½ t bakpoeier
½ t koeksoda
½ t sout
1 t vanilla essence
½ k volroommelk

Metode:
1. Verroom die botter en die suiker.
2. Klits die eiers liggies met ’n vurk en voeg by die bottermengsel.
3. Sif die meel by, gevolg deur die bakpoeier, sout en vanielje.
4. Los die koeksoda in die melk op, voeg dit by die res van die bestanddele en roer deeglik.
5. Druk die piesangs met ’n vurk fyn en roer dit deur die mengsel.
6. Gooi die mengsel in ’n broodpan gesmeer met botter en bak vir 45 minute tot 1 uur op 180 grade, tot goudbruin en tot jy sien die middelste gedeelte aan die bokant is mooi gaar. Dis een van daardie verdraagsame gebakgoed wat niks sal oorkom as jy ’n slag of wat die oonddeur oopmaak om te loer nie.
7. Sit warm of koud voor met ’n smeersel botter, saam met goeie koffie of tee.

* Die broodjie sal nog beter smaak die volgende dag, wanneer hy behoorlik klam gaan wees. Jy kan dit ook gerus rooster en met heuning of kaneelbotter eet vir ontbyt. En dan vermoed ek dit kan ook uitstekend werk as poeding, mits jy dit ’n rooster en voorsit saam met ’n skeppie vanieljeroomys …

One thought on “Perfekte piesangbrood

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s