Tyd vir ‘n bietjie blomkool

Jeanne Calitz:stillewe:blomkoolAanskou die blomkool, ook bekend as die banting-embleem van Suid-Afrika. Lank meer nie bloot papgekook en versteek onder ’n dik kaassous nie – die blomkool is deesdae bo-aan die groente-gewildheidsleer, danksy mnr. Noakes en sy denkskool.

Dit beteken ook dat daar allerlei interessante nuwe maniere uitgedink word om dié kêrel voor te sit, ’n verwikkeling wat my beslis aanstaan. Idees met bestanddele en geurskeppers soos brandrissies, komyn, olywe, okkerneute en kappertjiesade klink alles baie belowend, dus het ek besluit dis hoogtyd om bietjie met die inkennige blomkool te eksperimenteer. En toe ek oor die naweek twee soortgelyke resepte raaklees vir blomkool gebak in ’n geurige tamatiesous – een deur Jamie Oliver en een deur die sjef April Bloomfield (uit haar boek met die oulike titel A Girl and her Greens), en ek loer so die weervoorspelling en daar wag koue weer, en ek bekyk die seisoenale kaart en sien o ja, ons is nou kniediep in die blomkool-seisoen, toe is die koeël deur die kerk.

Die resep is ’n kombinasie van Jamie en April se resepte, en in plaas daarvan om net blomkool in die sous te bak het ek die helfte van die tamatiemengsel gebruik om ’n paar stukke hoender ook gaar te bak, siende mens (in my beskeie opinie) nie van blomkool alleen kan lewe nie. Oor die groen olywe wil ek net sê: dit is asof dit gemaak is om bietjie persoonlikheid aan die o, so stigtelike blomkool te skenk.
Jeanne Calitz:stillewe:blomkool2

Blomkool-gebak (& hoender)
Genoeg vir 4 as bykos, of as hoofmaaltyd as jy met die helfte-vir-die-hoender-roete gaan. Ek het ook gestoomde groenbone hiermee saam voorgesit; siende boontjies en tamaties altyd goed oor die weg kom.

Bestanddele:
1 groot blomkool, stronk verwyder, die res in groot stukke gebreek
2 blikkies gekapte tamaties
½ k witwyn
3 groot knoffelhuisies, fyngekap
1 groot bruin of rooi ui, in die lengte in repies gesny
1 t sout
swartpeper na smaak
1 pakkie ontpitte groen olywe
so 2.5 ml suiker
handvol pietersielieblare

Metode:
1. Braai die knoffel en uie in olyfolie oor matige hitte in ’n diep pan (verkieslik een wat jy hierna in die oond kan druk) tot deurskynend.
2. Voeg die olywe by en braai vlugtig, nou kom die tamaties, witwyn, sout, peper en suiker by.
3. Laat kook vir ’n paar minute tot alles vrolik borrel, roer nou die pietersielie by en rangskik dan die blomkoolstukke in die mengsel.
4. Maak seker om die tamatiesous mildelik bo-oor die blomkool te drup of skep. (As jy, soos ek, die ete wil rek met hoender, skep helfte van die tamatiemengsel uit voor die blomkool bykom en skep dit oor ’n bak hoenderstukke; daar is regtig oorgenoeg sous.)
4. Rooster vir so 45 minute tot ’n uur in die oond op 180 grade tot die blomkool lekker sag as jy ’n vurk indruk. Loer so elke 15 minute om seker te maak dinge het nog nie drooggebak nie, en skep nog van die die tamatiemengsel uit die bak bo-oor die blomkool (en hoender).

* As jy hou van branderige kos, ’n bietjie brandrissie hier sal nie te onaardig wees nie, so 1 of 2 klein rooies opgekap saam met die tamatiemengsel sal bietjie skop aan die situasie verleen …

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s