Pure vreugde: ‘n Kookklas in Florence

Jeanne:stillewe.com:firenzeclass3
Gister het ons die plesier van ’n kookklas in Florence gehad. In ’n stad soos hierdie, bekend vir sy uitstekende vars produkte en bobaas restaurante, is daar geen tekort aan kosskole en kort kookkursusse nie, maar die meeste van hulle – altans die skole wat ek genader het – vra ’n plaas se prys vir ’n dagkursus.

Ons het egter goed reggekom danksy die eienaar van ons woonstel, wat gereeld sulke klasse vir haar gaste reël onder die leiding van ’n plaaslike sjef-vriendin van haar. So gebeur dit toe dat die vriendelike, gesellige Paula gisteroggend 09:00 by ons woonstel opdaag, sak en pak belaai met potte en panne en die nodige inkopies vir die dag se spyskaart. En wat ’n spyskaart was dit nie.

Continue reading

Europa deel 2: die verleiding van Toskane

Jeanne:stillewe:lucca1
So, ná ’n ongelooflike paar dae in Parys is ek nou in Florence in Toskane, waar twee vriendinne by my aangesluit het. Wat ’n fees is dit nie. Ons huur ’n woonstel in die middel van die dorp, stapafstand van die Duomo, en gebruik dit as basis om die streek te verken.

Gister het ons die trein gevat na die klein, lieflike dorpie Lucca. Te heerlik. Daar is minder toeriste as in Florence. [Ek staan telkens verstom oor die massas mense wat jy hier in Florence moet trotseer. Goed, ons tel ook as toeriste, maar ek weet eerlikwaar nie hoe die Italianers hul sin vir humor en gasvryheid behou onder hierdie konstante vertrapping nie.] In elk geval, Lucca: bekend vir onder meer sy lekker kos, pragtige dorpspleine en die stadsmuur wat reg rondom die oudorp loop. Continue reading

Parys en die groot genot van mense-kyk

Jeanne:stillewe.com:pinktea
Vandag het ek, so tussendeur al die stoppe op my moet-sien-lysie, kans gekry om een van my gunsteling aktiwiteite van ’n stadsvakansie uit te voer: om vir ’n ruk lank by ’n venster-toonbank (gewoonlik in ’n koffiewinkel, vandag in ’n byderwetse klein kroeg, vandaar die foto van die drankie) te sit en te kyk hoe die wêreld verbygaan.

Eindeloos fassinerend, en een van die lewe se groot plesiere. Ek is ’n skaamtelose people watcher, en in Parys voel ek veral tuis met hierdie gewoonte, want die mense hier maak geen geheim daarvan dat dít ook is wat hulle besig is om te doen nie. Hulle gaan sover as om al die stoele op die sypaadjies van die straatkafees in rye te pak en na die straat toe te laat front. So, daar het jy dit.

En hier is so geweldig baie om te sien. Ek probeer hard om die beelde van interessante mense wat ek sien, te bewaar. Die bejaarde tannie met die eksie-perfeksie roomkleurige jas en stewels wat rondloop met ’n skelpienk bob-haarstyl en ’n onnutsige glimlag. Die groot man, seker in sy vyftigs, wat verby stap met jong Jack Russell, die hondjie haastig en beurend, so opgewonde oor alles, die man met ’n verdraagsame glimlag op sy gesig. ’n Geval van: Hond stap met sy man. En die stokou, waardige omie wat met geboë skouers en ’n beret op die kop verbyskuifel met sy baguette onder die arm. Dis soos iets uit Amelie.

Ook is daar ’n speletjie wat ek geniet om hier te speel. Ek noem dit: Spot the Parisian. (Want hier is natuurlik baie toeriste ook, en vele buitelanders wat in Parys werk. Blykbaar is net 2 van die 8 miljoen mense wat vandag in Parys woon, oorspronklik van hier.) Dis nie ’n moeilijke speletjie nie. Die Parysenaars is buitengewoon herkenbaar. Daar is ’n sekere uniform wat gevolg word, vir beide vroue en mans. Ek vind dit nogals vreemd, gegewe die stad se modieuse onderbou, maar nou ja.

Die vroue (en nou praat ek van werkende vroue, nie kinders of studente of bejaardes nie, hierdie groepe het weer eens hul eie uniform) dra op die oomblik almal die mooiste enkelhoogte-stewels. Hulle dra langbroeke (nie juis jeans nie) of rompe saam met netjiese maar informele kraaghemde en baadjies, of elegante jasse. Die hare is skoon maar net so effens deurmekaar (tousled is die mooi Engelse woord), die grimering baie subtiel, en van juwele sien ek weinig. Dis alles baie mooi en effens intimiderend. En tog effens gedemp, as ek nou moet eerlik wees.

Die mans dra jeans met ’n kraaghemp en ’n netjiese baadjie (of blazer, soos my ouma altyd gesê het). Of hulle dra die fynste van fyn snyerspakke. Ongeag van watter kategorie hulle val, kan jy seker wees van twee dinge: die hare het ook daardie effense tousled voorkoms. En die skoene is punt in die wind van spoggerigheid, blinkgepoetsde leerskoene met skerp punte. Die mans is, van wat ek tot dusver gesien het, meer pronkerig as die vroue in hul kleredrag.

Dit laat my nogals dink aan die natuur en voëlspesies, waar die mannetjies se vere helderder is en meer kleur het as die wyfies. Ek wonder wat die rede hiervoor sou wees? Fassinerend.

Parys dag 3: parke, wonderlike kos en treffer-drankies

Jeanne Calitz:stillewe.com:promenadeplantee
Dit was ’n lang maar hoogs lonende dag van ontdekkings hier in die Franse hoofstad. Ek het besluit om die mooi, sonnige oggend behoorlik te benut met ’n draffie deur die verhewe park en wandel/hardlooproete die Promenade Plantée in die 11de distrik. Dit was die eerste park van sy soort, geskep op ’n spoorlyn wat in onbruik verval het. Dit strek vir etlike kilometers bo-oor strate en tussendeur woonstelblokke en is werklik iets om te aanskou. ’n Lieflike groen belt, ’n kalm oase in wat andersins ’n baie besige en raserige stad kan wees. Die Parysenaars is al gewoond hieraan maar ek het nie veel oefening gekry nie, weens die feit dat ek elke dan en wan in my spore gestuit is oor die terloopse skoonheid van hierdie roete. O, en die rose blom nou, wat die hele ervaring verhef.
Jeanne:stillewe.com:le6paulbert
V
ir middagete het ek gaan opsoek die piepklein maar uitstekende bistro Le 6 Paul Bert, ook in die 11de. Groot was my vreugde toe ek daar instap, sien die hele plek is vol Franse (altyd ’n goeie teken), en een van die laaste sitplekke by die kroeg opraap. Smullekker, en ongetwyfeld die beste kos wat ek nog hier geëet het. Seekat en kalamari met ’n jogurtsous en basiliepesto, wonderlik geurige varknek met soet wortels, appel puree en klein-klein baba-aartappels, afgerond met ’n sysagte sjokolade-poeding waaroor ek nog lank sal droom. Sug.

Jeanne Calitz:stillewe.com:candelaria
D
aardie avontuur is opgevolg, effens later in die dag, met ’n skemerdrankie by ’n baie oulike cocktail kroeg in die Marais-distrik. Van wat ek lees, is hier tans ’n ontploffing van sulke kroeë in Parys, iets wat my hoogs tevrede laat. Candelaria het ’n Mexikaanse tema, ’n interessante spyskaart, gemaklike atmosfeer en (baie belangrik in hierdie stad) vriendelike, verwelkomende kelners. Ek het een van hul spesialiteitdrankies (tequila met ’n rissie-byt, lemmetjie, koljander, komkommer en agavestroop) by ’n tafeltjie teen die venster geniet, hoogs in my noppies met die verloop van sake.
Jeanne Calitz:stillewe.com:tuileries
En die ekspedisie is afgerond met ’n laatmiddag/vroegaand-drentel deur die Jardin des Tuileries by die Louvre. ’n Pragtige park, veral teen skemer, wanneer die goue lig als so dromerig mooi laat vertoon. Fonteine en standbeelde en pioensrose in blom, net waar jy kyk. Buiten die mooie uitsig wat dit bied op die Louvre, kry jy ook so ’n verlangse blik, elke nou en dan, van die ikoniese Eiffel.

Wel, genoeg gesien vir een dag, dink ek.

Padlangs deur die Marais-distrik, Parys

So tussendeur reën- en donderweerbuie deur het ek vandag rustig deur die Marais-distrik in Parys gedrentel. Sover ek kan agterkom huisves dié distrik deesdae die room van hierdie ongelooflike stad se interessante boetieks (met ander woorde, nie die groot en duur ontwerperswinkels wat jy in die Champs Elysees sal vind nie) asook die jong, opkomende sjefs se restaurante.

Daar is só ongelooflik baie om te sien. Een voorbeeld is die indrukwekkende Bastille (foto onder), wat ook die kruispunt vorm van ’n paar groot boulevards.

Jeanne Calitz:stillewe:bastille:paris
N
ie te ver daarvandaan nie wag die pragtige, hoogs simmetriese Place des Vosges, Parys se oudste stadsplein, met sy 36 simmetriese huise wat uitkyk op die loofryke plein met sy vier fonteine en standbeeld van Louis XIII (foto onder).

Jeanne Calitz:stillewe:parys place des voges
M
aar vir my was die lekkerste deel van die Marais se aantreklike, nou straatjies en die klein juwele wat jy daar sal ontdek. Een so ’n skat is Chez Hélène, ’n lekkergoed-winkel so reg uit jou drome. Kyk, Parys het geen tekort aan chocolateries nie, maar hierdie klein winkel verkoop bon bons – soetgoed van elke kleur en geur, aanloklik uitgestal soos helder juwele. Dis soos die Sweets from Heaven wat ons in SA ken – net met tien keer meer klas en karakter.

Jeanne Calitz:stillewe:paris bon bons
E
k swig behoorlik en stap daar weg met ’n peperduur, pragpienk houer vol unieke soetgoed – suiglekkers gegeur met rose en swartbessies, versuikerde lemoenskil bedek met donker sjokolade, amandels bedek met haselneutroom en wit sjokolade, lekkers gegeur met anys, en rabarber (rhubarb), en viooltjies. Aarde, die Franse weet net hoe.

Op reis – aankoms in Parys

Jeanne Calitz:stillewe:parys2
Ek het gister in Parys aangeland. Stad van liggies, weergalose kuns, lieflike argitektuur en wonderlike kos. Vir die volgende paar dae bly ek in ’n piep-maar-piepklein woonstelletjie in die 11de arrondissement (distrik) van Parys.

Wat die  vakansie betref, dis iets waarvan ek al jare lank droom, en toe gebeur die besluit eintlik baie vinnig, in een van daardie impulsiewe “die lewe is kort” oomblikke. So nou is ek hier, tot my groot verbasing en enorme plesier, tot Saterdag, wanneer ek die nagtrein vat na Florence, waar ek vir ’n week lank ’n woonstel gaan huur saam met ’n vriendin of twee.

Intussen, my indrukke van Parys tot dusver:
1. Daar is ’n wonderlike bakkery op amper elke enkele straathoek. (Insluitend my straathoek. O wee, hier gaan dinge handuit ruk.)
2. Die stad is amper absurd-mooi. Maak nie saak watse kant toe jy kyk nie, elke uitsig smeek om ge-instagram te word.
3. Die vroue in Parys moet deel wees van ’n ander spesie, werklikwaar. Afgerond is nie die woord nie. Ongelooflik gesofistikeerd, nie ’n haar uit plek nie, en die mooiste ontwerperskoene aan hul fyne voete. Dit laat jou afkyk na jou eie gemaklike stapskoene en voel soos Sannie van die platteland. Maar wat, dan bestel jy maar nog ’n macaron om jouself vinnig te laat beter voel …

Sjokolade-en-peerpoeding vir ‘n koue herfsaand

Jeanne Calitz:stillewe:chocolate pear pudding
Nee aarde, ’n koue dag soos vandag maak my lus vir net een ding, en dit is ’n warm winterpoeding. Spesifiek is ek al heeldag lus vir iets ryk, iets met sjokolade. Verder het ons ’n paar pere gehad wat hier rondlê en nie meer so kraakvars daar uitsien nie, so ek wou hulle ook sommer in die konkoksie inwerk.

Toe ontdek ek hierdie heerlik eenvoudige resep vir ’n warm, sponserige sjokoladepoeding op BBC Food se webwerf, en toe gaan dinge sommer net goed. Sjokolade en pere, soos ons al via Lindt geleer het, is uitstekende bedmaats. ’n Lekker seisoenale poeding (pere is nou in seisoen) wat die hele huis met donker sjokoladegeure sal vul, is wat jy hier kry. Ek het die gevlokte amandels van die oorspronklike resep uitgelaat (nie lus vir iets krakerigs nie), en bietjie kaneel bygevoeg vir ’n ekstra aks winter-karakter.

Continue reading