‘Bangers & mash’ met karakter

Jeanne Calitz:stillewe:botterskorsie
B
angers & mash. Nog nooit my gunsteling gereg nie, hoofsaaklik weens die feit dat die varkworsies in my ervaring altyd te vetterig is, en dan is die gepaardgaande kapokaartappels gewoonlik net so vreeslik … vaal. Maar my man vrek daaroor, en met die afgelope paar dae se duidelike herfsweer het ek vreeslik lus geraak om iets met pampoen – of te wel botterskorsie – aan te vang.

Pampoen en die skorsie-familie, terloops, is volgens my seisoenale kaart eintlik altyd in seisoen. Dit klink vir my na ’n bogspul; ek weet nie hoe dit moontlik is nie. Pampoen spel vir my baie duidelik uit dat dit nou herfs of winter is, so ek hanteer dit as sulks.

Die resultaat van vandag se kokery: ’n geurige botterskorsiemoes, gemaak van helfte gestoomde en helfte geroosterde botterskorsie. Die mengsel kry so bietjie (okei, heelwat) karakter danksy die toevoeging van heelwat vars tiemie, knoffel en swartpeper. En met die teenwoordigheid van een fyngekapte brandrissie het dit ’n ligte branderige klap weg. Héérlik saam met die sout smaak van die varkworsies, wat ek by Woollies gekoop het en wat self spog met lekker geur weens die salie daarin. En nie te veel vet nie, dankie tog. Gooi ’n paar kersietamaties in die bakplaat om saam met die pampoen te rooster, stoom ’n handvol Franse boontjies vir so bietjie groen op die bord, en die resultaat is, in alle nederigheid, een van die lekkerste geregte wat ons in ’n lang tyd op ’n Donderdagaand geniet het.

Karaktervolle botterskorsiemoes
Lewer 4 porsies
(Dis seker nie nodig om oor die worsies te skryf nie? Braai hulle in ’n warm pan tot lekker goudbruin en ferm. ’n Lepel korrelmosterd oor die warm eindproduk sal uistekende dividende lewer.)

Nota: hierdie bykos was effens van ’n eksperiment – ek het die een helfte van die pampoen gestoom om seker te maak dit is lekker sag, die ander helfte gerooster omdat ek daardie effense soet rokerigheid gesoek het. By nabetragting voel ek dis onnodig om te stoom, solank jy die skorsie lekker stadig en rustig laat gaar rooster in die oond, dat daardie karamelgeure lekker kan ontwikkel. Ná dese verstaan ek die Amerikaners se fiksasie met pampoen in soet geregte – pampoen-gegeurde latté’s sal ek verby laat gaan, maar ’n pastei of soet broodjie klink bitter belowend.

Bestanddele:
1 kg geskilde botterskorsiestukke
3 knoffelhuisies, fyngekap
sout (moenie skaam wees nie) en swartpeper na smaak
sowat 5 ml vars tiemieblare
1 klein rooi brandrissie, fyngekap
sowat 1 E olyfolie
klontjie botter
1 E melk

Metode:
1. Verhit die oond tot 160 grade. Voer ’n bakplaat uit met bakpapier (dit keer dat die skorsie swart rooster én maak jou werk veel makliker later met die opwas).
2. Meng al die bestanddele deeglik – voeg nog olie by as jy dink dis nodig, alles moet lekker klam wees – en sprei uit op die bakplaat.
3. Bak vir sowat 50 minute of tot dit heeltemal meegee as jy ’n vurk indruk.
4. Ná sowat 30 minute kan jy so 100 g kersietamaties in die plaat gooi om te rooster – die suur van die tamaties gaan wonderlik by die soet pampoen,
5. Haal die plaat uit die oond, skep die tamaties uit en hou eenkant. Druk die pampoen fyn, toets en geur met sout indien nodig, en roer die melk en botter goed by. Sit voor saam met gebraaide varkworsies of -tjoppies en gestoomde groenboontjies of langsteel broccoli.

* Naskrif: die pampoen en tamaties, val dit my nou by, is die perfekte pasmaat vir ’n standaard risotto met parmesan. Roer net by en geniet. Mmmm.

One thought on “‘Bangers & mash’ met karakter

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s