Oor funksionaliteit, en skoonheid

Jeanne Calitz:stillewe:skoonheid1
Een van my nuwejaarsvoornemens vir 2015 is: om minder dinge te koop. Dis gedeeltelik uit ’n besparingsoogpunt – die lewe van ’n vryskutjoernalis is ekonomies baie onvoorspelbaar. Maar dit is grootlik in reaksie op ons era van massa handel wat net die heeltyd op jou gil om te koop! koop! koop!

Dit maak my gespanne. Al hierdie goeters. En die feit dat ek daaraan toegee, dat ek val vir die slim bemaking, die mooi verpakking, die onderliggende belofte van (ware, ewigdurende) geluk. Dit maak dat my huis propvol goed is.

En voor jy dink ek ly aan ’n onversadigbare kooplus, dis nie die geval nie. Inteendeel, ek het in ’n spaarsamige huishouding grootgeword en daardie gewoonte is by my ingeburger. My enigste groot swakte is boeke. En dít sluit ek nie by die banale kategorie van “dinge” in nie: boeke verbreed die brein, verskaf eindelose vreugde en leer jou oor die lewe. Einde van disclaimer.

In elk geval, ek is seker ek is nie die enigste een wat voel dat hul huis stadigaan oorgeneem word deur dinge nie. Orals waar ek kyk, onder beddens, agter deure, net waar jy ’n kasdeur oopmaak, net nog dinge en dinge. Beslis nie alles nodig om ’n bestaan te voer nie. En dan is daar die feit dat, wanneer ons wel moeg raak vir van ons dinge, ons dit eenvoudig weggooi. Of weggee, dalk, maar vir iemand anders wat ook eendag gaan moeg raak daarvoor, en dan beland dit tog op die ashoop. So gaan die mensdom eendag verswelg word deur al sy besittings. Onlangs het ek die wysheid iewers raakgelees wat sê: “Don’t throw stuff away. There is no away.” Daar is net hier.

Wel. Nou het hierdie ’n effens neerdrukkende post geword. Selfs (sidder) prekerig. Geensins my bedoeling nie. Maar minstens skets dit die agtergrond. Want siende ek uit die aard van die saak nie alles kan behou of opgaar tot ek eendag omkap nie, het ek besluit om minder dinge aan te koop, en baie strenger te wees in my kriteria. Vir hierdie aanslag volg ek die woorde van William Morris, vader van die kunsvlyt-beweging: “Have nothing in your house that you do not know to be useful, or believe to be beautiful.” Funksioneel, of beeldskoon. Presies. Hopelik beide. En dan wil ek ook graag dinge van gehalte aanskaf, waar dit nodig is om te koop. Dinge wat met trots en aandag gemaak is. Iets met langdurigheid. Verkieslik deur ’n mens, en nie deur een of ander robot-gedrewe massa-fabriek in China nie.

Jeanne Calitz:stillewe:skoonheid2
Soos byvoorbeeld die erdeware hierbo, wat ek oor die langnaweek by The Potter’s Gallery in Kleinmond gekoop het. Vier koffiebekers, en dan ’n klein kruik waaraan ek intussen begin dink het as ’n vlabekertjie. Dis een van my eerste nie-noodsaaklike aankope van die jaar, en ek het groot waardering vir die feit dat dié stelletjie deur ’n persoon gemaak is, met die hand, by ’n pottebakkerswiel. Jy kan die menselikheid sién in die werk – die koppies is nie almal ewe rond of glad nie, hier is ’n beker se oor net so ’n aks skeef, daar skyn die sagte wit glaseersel effens deur. Nie perfek nie, maar pragtig, en vol persoonlikheid.

Die bekers pas perfek in die kelk van jou hand, die vlabeker se eenvoudige vorm is vir my só mooi dat ek minute daarna kan sit en kyk. Dit lyk na iets wat tuis hoort in ’n Rembrandt-skildery. Funksioneel én beeldskoon. Nie goedkoop nie, gewis. Maar duursaam, en elke sent werd.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s