Vinnige, veelsydige frittata

Jeanne Calitz:stillewe:frittata
Die frittata is een van die veelsydigste resepte wat ek ken. Dié gebakte eiergereg het natuurlik baie in gemeen met die omelet, met die verskil dat hy meer van alles bevat: meer eiers, meer bestanddele (in terme van volume) soos groente of vleise, en ook effens meer kooktyd. (’n Gedeelte daarvan in die oond.)

Die gereg het ek die eerste keer raakgelees in die New York Times, waar dit aangebied is as ’n uitstekende manier om oorskiet-groente op te gebruik. Jy weet, daardie halwe kop broccoli wat in die slaai-laai lê, vir meer as ’n week al, en wag om gebruik te word. Of die kwart pak murgpampoentjies wat oorgebly het ná die naweek. Die handvol kersietamaties wat nou net-net te sag is vir ’n krakerige slaai … almal sal ’n wonderlike tuiste vind in die frittata.

Ek geniet die bevrediging daarvan om sulke oorskiet te kan wegwerk in ’n nederige maar baie smaaklike gereg. En ek geniet die feit dat die frittata hom leen tot enige uur van die dag – ontbyt, brunch, ’n ligte middagete of selfs ’n gesonde aandete. In die lente maak ek ’n frittata met aspersies, jong ertjies en gerookte forel – feestelik genoeg om, saam met ’n glas vonkelwyn, vir ’n girls lunch voorgesit te word. Die algemene sleutel tot sukses hier is: ’n lekker veskeidenheid van bestanddele, vars kruie en die varsste eiers moontlik. O, en ’n oondvaste pan.


Vir hierdie spesifieke baksel het ek preie gebruik, wat nou in seisoen is. Net die onderste, wit gedeeltes daarvan, die sagter dele – hou die groen gedeeltes vir ’n roerbraai of iets. Daarby kom kersietamaties (ek maak amper nooit frittata daarsonder nie), en bietjie sagte bokmelkkaas. Die gewone frittata kry so twee eetlepels vol gerasperde parmesan wanneer jy die eiers klits, probeer dit gerus, dit laat die gereg ’n mooi goudbruin verkleur én ’n baie aangename kaasreuk deur die huis dryf.

Vinnige frittata
Genoeg vir 2 as hoofmaaltyd, of vir 4 as ligte ete.

Bestanddele:
6 groot eiers
2 E melk
2.5 ml sout
swart peper na smaak
1 E vars tiemie- of suurlemoentiemieblare
wit gedeeltes van sowat 6 groot preie (leeks), in dun wigges gesny
½ k vars kersietamaties, gehalveer
sowat 45 ml sagte bokmelkkaas, in klein stukkies geskeur

Metode:
1. Verhit die oond tot 180 grade, skakel die roosterelement aan.
2. Braai die preie oor lae hitte in olyfolie totdat dit sag en deurskynend is.
3. Klits intussen die eiers, melk, sout, peper en kruie saam.
4. Gooi die eiermengsel in die pan en laat eweredig versprei.
5. Rangskik die tamaties met gesnyde kante na bo in die mengsel.
6. Laat die inhoud oor medium hitte kook tot dit begin stewig raak, daar sal klein borreltjies op die oppervlak verskyn.
7. Rangskik nou die kaas op die oppervlak, plaas in die oond en bak/rooster vir sowat 5 minute of tot die frittata goudbruin verkleur en begin oppof.
8. Sny in skywe en sit dadelik voor.

* ’n Skeppie roketslaai met olyfolie, balsemasyn en dalk bietjie komkommer as metgesel sal glad nie onwelkom wees hier nie. Dieselfde geld ’n glas witwyn.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s