Groenslaai met gebraaide murgpampoentjies

Jeanne Calitz:stillewe:pampoentjies
R
eg, so my murgpampoentjie-oes is hierdie seisoen ’n algehele mislukking. Ek het besluit om nie vreeslik daaroor te tob nie, want ek weet waaragtig nie wat ek anders as vorige jare gedoen het nie, toe ons net moes keer of die groente het die hele tuin oorgeneem. Terloops: Ignoreer ’n groeiende (gesonde) murgpampoentjie op eie risiko – die een aand is hy so lank soos jou hand, die volgende dag het dit ballon in ’n reusagtige wapen waarmee jy iemand katswink kan slaan … maar, ironies genoeg, nie juis kan voed nie, want hoe groter dié groente, hoe minder smaak het hy. En weinig voedingswaarde.

Ek dwaal af. My misoes ten spyt, die murgpampoen is nou in seisoen en dus wyd beskikbaar in winkels in markte. Dis een van die groentes wat my die langste geneem het om aan byt te kry, hoofsaaklik omdat hy so vinnig sag en pap kook met die gaarmaakslag. Maar rou in slaai, of gemarineer, of vlugtig gebraai in ’n pan, is dit ’n heel ander storie. Veral die flitsbraai is iets besonders: die hitte bring iets soets en rokerig na wat in wese (my gevoel, in elk geval) ’n valerige groente is.

Jeanne Calitz:stillewe:pampoentjies2
Die slaai wat volg het ek geskep as groen metgesel vir ’n redelik enorme stuk ribeye-steak wat my skoonouers ons oor die langnaweek geskenk het. Dis ’n baie eenvoudige mengsel – pampoentjies, avokado, waterkers, ment, olyfolie ens. ’n Volledig seisoenale gereg, dus, iets wat my altyd bly maak. Die blom op die foto is natuurlik die murgpampoentjie se eetbare bloeisel. Eendag wat eendag is, gaan ek genoeg bloeisels hê om hulle te vul met sagte bokmelkkaas, blitsig te diepbraai en voor te sit met ’n knerts vars basiliepesto. Eendag. Mens leef in hoop.


Jeanne Calitz:stillewe:pampoentjies3
G
roenslaai met gebraaide murgpampoentjies
Genoeg vir 4
*Jy sou ook die slaai heel rou kon eet deur die repe pampoentjies bloot vir ’n rukkie te marineer in die suurlemoen-olyfolie-mengsel.

Bestanddele:
400 g pampoentjies in lang repe gesny. (Effens groter groente werk beter hier, en dikker repe ook, so 4 mm as dit kan.)
1 ryp maar ferm avokado, in blokkies gesny
160 g waterkers (watercress)
paar vars mentblare
1 suurlemoen
olyfolie

Metode:
1. Plaas die repe pampoentjies in ’n bak. Meng 3 E suurlemoensap met so 2 E olyfolie, voeg ’n knypie sout en swart peper by en roer goed. Drup die sous oor die groente en laat marineer vir so 10 minute.
2. Verhit ’n riffelpan oor medium hitte (my plaat was op 4 gestel) en braai die pampoentjies versigtig en vinnig – so 2-3 minute behoort genoeg te wees, of tot jy sien hulle begin rooster-merkte vorm. Skep uit en laat afkoel.
3. Plaas die waterkers, pampoentjes en avokado in ’n slaaibak.
4. Garneer met vars kruisement, sowat 2 E se blare, gesnipper.
5. Meng die sap van ’n halwe suurlemoen met 3 E olyfolie en ’n draaisel swartpeper, en drup oor die slaai.

* Bietjie sagte bokmelkkaas, in stukkies geskeur, sal glad nie ’n slegte idee hier wees nie …

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s