Geurige muffins vir die Paastyd

Jeanne Calitz:stillewe:paasmuffins2
Goed, ek weet daar bestaan nie so iets soos Paas-muffins nie. Dis die tyd van die jaar wat almal Paasbolletjies en Paaseiers by die dosyne eet. Geen probleem met laasgenoemde nie. Maar die Paasbolletjies moet ek ongelukkig vermy, want enigiets met gis (soos bakkersgis) akkodeer nie met my nie (maagpyn).

Vandaar bogenoemde skepping. Ek was opsoek na iets geurigs, iets met lekker baie kaneel. Iets met sjokolade, natuurlik. En dan in plaas van die rosyntjies, was ek lus om een of ander seisoenale vrug te gebruik, soos pere. En waarlik, die eindresultaat, ’n geurige muffin wat danksy sy bestanddele net rég voel vir herfs, het soos ’n bom gewerk.

Uiteindelik het daar twee baksels uit die proses gekom. Die een is ’n sjokelade-muffin met kaneel en pere. Vir die ander baksel (met presies dieselfde basiese resep) het ek die pere uitgelaat en dit vervang met gedroogde bosbessies (cranberries), waarvan ek ’n pakkie in die huis gehad het.

Ek kan eerlikwaar nie besluit watter soort is lekkerder nie. Hoewel die bosbessie-muffin veel hoër gerys het en ’n digter tekstuur het, verleen die pere in die ander weergawe aan daardie gebak ’n lieflike klamheid. Beide smaak, soos Paasbolletjies, vorentoe saam met ’n smeersel botter, en ’n goeie koppie koffie of tee. En weens die feit dat hier nie so vreeslik baie suiker bykom nie, is dit nie te erg soet nie en proe dit soos iets waarvan jy meer as een porsie kan eet (in skerp kontras met deesdae se winkel-muffins, wat heeltemal hoog is op suiker.) Hoera!

Die resep het ook effens meer muffins gelewer as wat ek verwag het, so ek vermoed hierdie gaan instaan vir ontbyt vir die volgende vier dae of so. Geen klagtes daaroor. Dit voel net nie reg om Pronutro te eet oor ’n langnaweek nie.

Jeanne Calitz:stillewe:paasmuffins1
Bestanddele:
Met die pere lewer die resep sowat 9 mediumgrootte muffins.
Dieselfde droë en nat bestanddele met die bosbessies skep egter 6-7 muffins, siende die pere nie daar is om tot die volume by te dra nie.

Basiese resep:
125 g bruismeel
60 g kakao
80 g sagte bruinsuiker
3.75 ml bakpoeier
5 ml kaneel
knippie sout
150 ml melk
1 groot eier, geklits
60 g botter, gesmelt
1 en ’n halwe ryp peer, geskil en in fyn blokkies gesny*
OF
sowat 80 g gedroogde bosbessies

Metode:
1. Verhit die oond tot 180 grade en voer ’n muffinpan uit met kolwyntjie-houers.
2. Meng al die droë bestanddele saam.
3. Meng al die nat bestanddele (behalwe die vrugte) en roer dit alles op een slag by die meel-mengsel, gevolg deur die vrugte.
4. Verdeel die mengsel eweredig tussen die muffinpan en bak vir 25-30 minute tot die muffins ferm voel as jy daaraan vat.

* Jy die kan die oorblywende helfte van die tweede peer gerus in blokkies sny en oor die peer-muffins strooi net voor jy dit in die oond sit. Gesprinkel met kaneelsuiker lyk dit nogals mooi en verleen lekker tekstuur aan die gebak. Dieselfde geld die bosbessie-weergawe – ek het ’n paar vruggies uitgehou en dit netso bo-oor gesprinkel vir die mooi, net voor die pan die oond in is.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s