Soetmielie-en-avo-slaai (perfek vir ’n braai)

Jeanne Calitz:stillewe:avo-salsa
Sekere geregte word gebore uit omstandighede, en ek hou daarvan. Ek hou veral van hoe hierdie salsa-slaai bymekaar gekom het. Dis die resultaat van:

– 2 mielies wat ongebruik oorgebly het ná die naweek se onthaal
– 1 eensame rooi soetrissie uit die tuin
– ’n ryp tamatie of twee, waarvan ek altyd in die huis het
– gekapte slaai-uie, ook oorblyfsels van die naweek se gekook
– ’n paar perfek-ryp klein avo’s wat my skoonouers ons geskenk het van die boom in hul tuin
– ’n laaste lemmetjie gevind in die vrugtebak

En dis omtrent dit. Soos jy kan sien hier het ek dit voorgesit saam met gerookte forel, vlugtig in die oond gerooster. Ek dink wel dit sal die perfekte braai-bykos maak, veral met ’n visbraai. En dit sal beslis ook werk as daar hoender betrokke is, nog meer so as laasgenoemde ’n Thai klap weg het.

Maar vir ’n gewone Woensdagaand, en saam met hierdie stukkie forel, was dit bobaas. Trouens, dis lekker genoeg om net so te verorber, sonder enige vis of vleis. Ek geniet ook die feit dat dit nogals ’n seisoenale skepping is – mielies, uie, tamaties, soetrissies is almal nog in seisoen, en die avokado begin nou net in seisoen kom, so dit laat mens sommer deugsaam voel.


Jeanne Calitz:stillewe:avo-slaai2
S
oetmielie-en-avo salsa-slaai
Die resep dien twee, as jy dit wil voorsit as enigste bykos. (Die mielies verskaf immers stysel.) As jy egter ander kookplanne ook het en nog bykosse maak, sal dit vier slaai-porsies lewer.

Bestanddele:
2 mielies, gaar gekook (so 15-20 minute) en pitte van die stronk gesny
1 ryp maar ferm tamatie, ontpit en in blokkies gesny
5-6 pers slaai-uie, fyngekap (of ’n halwe rooi ui, fyngekap)
2 klein of 1 groot ryp maar ferm avokado, in blokkies gesny
1 rooi soetrissie, in blokkies gesny
sap van 1 lemmetjie
sout en swart peper

Metode:
1. Laat eers die mielies effens afkoel.
2. Meng dan die eerste vyf bestanddele liggies in ’n mengbak. Wees versigtig om nie die avo te kneus nie.
3. Geur met sout (nie meer as 2.5 ml) en heelwat vars swart peper.

* Jy sou ook ’n behoorlike salsa kon maak en dinge so bietjie opkikker met die toevoeging van een klein gekapte brandrissie. Ek was bang dit sou die vis oordonder hier, maar dit sal beslis tot die slaai bydra. Dan sal dit die ideale salsa vir ’n Mexikaanse aandete ook word … In welke geval jy beslis bietjie (OK, baie) koljander moet bykap.

** Dit kan ook GLAD nie skade maak om die mielies oor die kole gaar te rooster nie – daardie effense rokerigheid sal heerlik deurkom in die slaai.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s