Trinchado as trooskos

Jeanne Calitz:stillewe:trinchado
V
an my hoop op ’n rustiger week het daar toe net mooi dadels gekom. Administrasie net waar ek kyk en pligte wat ek gemeen het afgehandel is, wat terugkom om my te treiter. Ag wat, party weke loop so. Volgende week is ek wel deeglik op verlof en dan is daar tyd vir rus.

Intussen deel ek graag die resep vir trinchado waarmee ek hierdie week geëksperimenteer het, in reaksie op die koel herfsweer. Ek het dit reeds Woensdag gemaak, en was net-net klaar toe die krag hier in Woodstock uitskop. Regtig, die gereg het ’n wonderbaarlike skans gevorm teen die tierende wind en die donker wat so vinnig en swaar uitgesak het. Hy’t net die regte raps hitte om die koue te verdryf. Dis die soort gereg wat nog beter smaak die volgende dag, wanneer die verskeidenheid geure tyd gehad het om behoorlik te meng en ontwikkel.

Let wel, hierdie is nié ’n subtiele gereg nie – die paprika en die rissie maak beide stem dik, om nie te praat van die knoffel nie. Maar dis ’n heerlik geurige affêre wat die gemoedere sal lig (rissies laat jou brein endorfiene afskei!) en die maag sal behaag.

Continue reading

Opkom vir asem – en ’n vriendelike skemerdrankie

Jeanne Calitz:stillewe:tequila sour
’n Mal dag agter die rug. ’n Mal besige week, eintlik, en die rede hoekom ek so stil was hier rond. Maar vandag was buitengewoon produktief (die wonderlike motivering van ’n naderende spertyd), en ek is tevrede met die resultate. En hopelik kan ek die volgende paar dae net so effens asem skep.

Om die geleentheid te vier, ’n aangename skemerdrankie, saamgeflans uit dinge wat ek in die huis gehad het: een verlate naartjie (ek het geen benul waar dit vandaan gekom het nie, ek het dit beslis nie gekoop nie), ’n skeut lemmetjiesap, ’n sopie tequila en limonade. By latere ondersoek  lees ek hierdie kwalifiseer, in baie breë terme, as ’n Tequila Sour.

As ek so na die pryse in die winkels kyk begin lemmetjies nou in seisoen kom, iets waarvoor ek dankbaar is want ek vrek oor dié klein vrug met sy effens spesery-agtige geur. Soveel so dat ek ’n boom geplant het en hom elke dag fyn bespied vir enige tekens van bloeisels. Terug by die drankie: dis ’n redelik skadelose storie. Baie soos ’n margarita, maar sonder daai merrie se skop, want jy vul die glas met limonade. ’n Vriendelike, vrolike drankie wat, durf ek dit sê, nie sy neus sou optrek vir ’n helder sambreeltjie of ’n soet rooi kersie nie. Selfs beide. Nie my mees gesofistikeerde alkoholiese skepping ooit nie, maar nou ja, ’n martini is ook nie gemaak vir elke dag se drink nie.

Tequila sour met naartjiesap
Meng in ’n kort glas die sap van een naartjie, ’n halwe lemmetjie en een sopie tequila. Voeg ys by en vul met limonade. Geniet!

‘Bangers & mash’ met karakter

Jeanne Calitz:stillewe:botterskorsie
B
angers & mash. Nog nooit my gunsteling gereg nie, hoofsaaklik weens die feit dat die varkworsies in my ervaring altyd te vetterig is, en dan is die gepaardgaande kapokaartappels gewoonlik net so vreeslik … vaal. Maar my man vrek daaroor, en met die afgelope paar dae se duidelike herfsweer het ek vreeslik lus geraak om iets met pampoen – of te wel botterskorsie – aan te vang.

Pampoen en die skorsie-familie, terloops, is volgens my seisoenale kaart eintlik altyd in seisoen. Dit klink vir my na ’n bogspul; ek weet nie hoe dit moontlik is nie. Pampoen spel vir my baie duidelik uit dat dit nou herfs of winter is, so ek hanteer dit as sulks.

Die resultaat van vandag se kokery: ’n geurige botterskorsiemoes, gemaak van helfte gestoomde en helfte geroosterde botterskorsie. Die mengsel kry so bietjie (okei, heelwat) karakter danksy die toevoeging van heelwat vars tiemie, knoffel en swartpeper. En met die teenwoordigheid van een fyngekapte brandrissie het dit ’n ligte branderige klap weg. Héérlik saam met die sout smaak van die varkworsies, wat ek by Woollies gekoop het en wat self spog met lekker geur weens die salie daarin. En nie te veel vet nie, dankie tog. Gooi ’n paar kersietamaties in die bakplaat om saam met die pampoen te rooster, stoom ’n handvol Franse boontjies vir so bietjie groen op die bord, en die resultaat is, in alle nederigheid, een van die lekkerste geregte wat ons in ’n lang tyd op ’n Donderdagaand geniet het.

Continue reading

Oor funksionaliteit, en skoonheid

Jeanne Calitz:stillewe:skoonheid1
Een van my nuwejaarsvoornemens vir 2015 is: om minder dinge te koop. Dis gedeeltelik uit ’n besparingsoogpunt – die lewe van ’n vryskutjoernalis is ekonomies baie onvoorspelbaar. Maar dit is grootlik in reaksie op ons era van massa handel wat net die heeltyd op jou gil om te koop! koop! koop!

Dit maak my gespanne. Al hierdie goeters. En die feit dat ek daaraan toegee, dat ek val vir die slim bemaking, die mooi verpakking, die onderliggende belofte van (ware, ewigdurende) geluk. Dit maak dat my huis propvol goed is.

Continue reading

Vinnige, veelsydige frittata

Jeanne Calitz:stillewe:frittata
Die frittata is een van die veelsydigste resepte wat ek ken. Dié gebakte eiergereg het natuurlik baie in gemeen met die omelet, met die verskil dat hy meer van alles bevat: meer eiers, meer bestanddele (in terme van volume) soos groente of vleise, en ook effens meer kooktyd. (’n Gedeelte daarvan in die oond.)

Die gereg het ek die eerste keer raakgelees in die New York Times, waar dit aangebied is as ’n uitstekende manier om oorskiet-groente op te gebruik. Jy weet, daardie halwe kop broccoli wat in die slaai-laai lê, vir meer as ’n week al, en wag om gebruik te word. Of die kwart pak murgpampoentjies wat oorgebly het ná die naweek. Die handvol kersietamaties wat nou net-net te sag is vir ’n krakerige slaai … almal sal ’n wonderlike tuiste vind in die frittata.

Ek geniet die bevrediging daarvan om sulke oorskiet te kan wegwerk in ’n nederige maar baie smaaklike gereg. En ek geniet die feit dat die frittata hom leen tot enige uur van die dag – ontbyt, brunch, ’n ligte middagete of selfs ’n gesonde aandete. In die lente maak ek ’n frittata met aspersies, jong ertjies en gerookte forel – feestelik genoeg om, saam met ’n glas vonkelwyn, vir ’n girls lunch voorgesit te word. Die algemene sleutel tot sukses hier is: ’n lekker veskeidenheid van bestanddele, vars kruie en die varsste eiers moontlik. O, en ’n oondvaste pan.

Continue reading

Grenadella-margarita – sonskyn in ’n glas

Jeanne Calitz:stillewe:grenadella-margarita
E
n so kom ’n pragtige herfsweek tot sy einde – een wat eintlik gevoel het soos somer, met gister se soel hitte. Vir die geleentheid (dit was ’n rowwe week, een wat te veel excel spreadsheet-aktiwiteit behels het, nie my natuurlike habitat nie), maak ek ’n margarita met vars grenadellasap.

Hemels. Dit proe, in sy kern, na hoogsomer.

Dit word ’n wonderlike stil oomblik in ’n andersins besige dag. Ek neem die drankie uit na die dek en sit en kyk hoe  die son oor die hawe sak, en ’n digte misbank stadig oor die stad inrol. Koue seelug rondom my; en die wete dat winter oppad is. Maar darem nie dadelik nie. Vir eers, somer in my glas.

Grenadella-margarita:
Lewer 1 drankie
4 E vars grenadellasap
2 E vars lemmetjiesap
2-3 E tequila
2-3 E Triple Sec of lemoenlikeur

Metode: Meng al die bestanddele in ’n mengfles, giet oor ’n ysblokkie en laat behoorlik afkoel. Dis al. Die tradisionele margarita kry sout om die rand, maar ek het gedink dit sal net aandag aftrek van die grenadella se vrolike tropiese persoonlikheid.

Groenslaai met gebraaide murgpampoentjies

Jeanne Calitz:stillewe:pampoentjies
R
eg, so my murgpampoentjie-oes is hierdie seisoen ’n algehele mislukking. Ek het besluit om nie vreeslik daaroor te tob nie, want ek weet waaragtig nie wat ek anders as vorige jare gedoen het nie, toe ons net moes keer of die groente het die hele tuin oorgeneem. Terloops: Ignoreer ’n groeiende (gesonde) murgpampoentjie op eie risiko – die een aand is hy so lank soos jou hand, die volgende dag het dit ballon in ’n reusagtige wapen waarmee jy iemand katswink kan slaan … maar, ironies genoeg, nie juis kan voed nie, want hoe groter dié groente, hoe minder smaak het hy. En weinig voedingswaarde.

Ek dwaal af. My misoes ten spyt, die murgpampoen is nou in seisoen en dus wyd beskikbaar in winkels in markte. Dis een van die groentes wat my die langste geneem het om aan byt te kry, hoofsaaklik omdat hy so vinnig sag en pap kook met die gaarmaakslag. Maar rou in slaai, of gemarineer, of vlugtig gebraai in ’n pan, is dit ’n heel ander storie. Veral die flitsbraai is iets besonders: die hitte bring iets soets en rokerig na wat in wese (my gevoel, in elk geval) ’n valerige groente is.

Jeanne Calitz:stillewe:pampoentjies2
Die slaai wat volg het ek geskep as groen metgesel vir ’n redelik enorme stuk ribeye-steak wat my skoonouers ons oor die langnaweek geskenk het. Dis ’n baie eenvoudige mengsel – pampoentjies, avokado, waterkers, ment, olyfolie ens. ’n Volledig seisoenale gereg, dus, iets wat my altyd bly maak. Die blom op die foto is natuurlik die murgpampoentjie se eetbare bloeisel. Eendag wat eendag is, gaan ek genoeg bloeisels hê om hulle te vul met sagte bokmelkkaas, blitsig te diepbraai en voor te sit met ’n knerts vars basiliepesto. Eendag. Mens leef in hoop.

Continue reading