Blitsvinnige chorizo-pasta

Jeanne Calitz:stillewe:chorizo-pastaDie Italianers het ’n punt beet, dink ek. Loer bietjie deur hul resepte en jy sal sien dis oorwegend eenvoudig, met min bestanddele. Die idee is om goeie bestanddele te gebruik, dan hoef jy nie veel daaraan te karring nie.

Dis ’n kosfilosofie wat my regtig geval. Veral op dae wanneer daar nie veel in die koskas aangaan nie, wanneer daar nie tyd is vir inkopies nie, en wanneer die kafee of deli op die hoek dus sal moet deug.

Gister was só ’n dag. Min tot niks in die huis, en weens ’n besige dag met ’n paar vryskut-artikels kon ek eers teen vyfuur se kant begin wonder wat op dees aarde ons gaan eet. By die deli op die hoek gewaar ek toe ’n stewige stuk chorizo wat lekker lyk. Voeg daarby ’n pak pasta, gekapte tamaties, ’n paar ontpitte olywe en ’n handvol tiemie uit die tuin, en siedaar, koningskos.

Dié pasta het ook ’n bietjie byt aan hom. Die chorizo se verpakking het belowe dis warm en branderig, vandaar die idee. By die huis gekom is daar van die brand toe geen teken nie, maar teen daardie tyd was die behoefte gevestig, so toe help ek sake so effens aan met die toevoeging van olywe gegeur met brandrissie, en ’n rissie of twee uit die tuin. Lekker! Let wel dat die chorizo daarvan ’n redelike ryk storie maak, so ek sou nie parmesan byrasper nie, maar nes dit jou behaag.

Blitsvinnige, branderige chorizo-pasta
Lewer 4-5 porsies

Bestanddele:
2 knoffelhuisies, fyngekap
1 rooi ui, in ringe gesny en halveer
250 g chorizo-wors, in wiggies gesny
50 g ontpitte onlywe, halveer
sout en swart peper na smaak
2.5 ml gedroogde rissievlokkies, of 1 klein brandrissie, gekap
2 blikkies gekapte tamaties
30 ml tamatiepasta
5 ml suiker
sowat 5 ml vars tiemieblare

Metode:
1. Braai die uie en knoffel oor medium hitte in olyfolie tot deurskynend.
2. Voeg die chorizo by en braai vlugtig.
3. Voeg nou die res van die bestanddele by, roer goed om te meng en laat prut vir so 15 minute.
4. Kook intussen genoeg pasta vir 4 mense (gnocchi werk ook goed saam met hierdie sous), en sit voor.

Nota: as jy dalk ’n rooi soetrissie het wat ledig rondlê, sny dit in repies en braai dit saam met die uie, dit kan net smaaklike gevolge hê.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s