Soetsuur gebakte pruime saam met ’n eendjie

jeanne calitz:stillewe:pruime Verlede week het ek ’n draai in die Swartland gegooi vir ’n storie vir Eat Out, en ’n punt daarvan gemaak om aan te gaan by die klein, ougat algemene handelaar Crisp in Riebeek Kasteel. Hier kan jy allerande handige lekkernye koop wat nie orals beskikbaar is nie (soos gerookte eendborsies) asook meeste van die daaglikse benodighede soos vryloop eiers, vars vrugte en groente so reg van die plaas, pasta en dies meer. Wens ons het so ’n plekkie in Woodstock gehad …

In elk geval, ek is daar weg met onder meer ’n pakkie gerookte eendborsies (’n luukse wat ek ons so een keer elke twee maande gun) en die idee om ’n lekker soetsuur-sous daarmee voor te sit. En toe ek gister in die winkels kom en moontlik die laaste van die seisoen se ryprooi pruime gewaar, toe’s die koeël deur die kerk. Sela.

Hierdie resep, moet ek erken, is nie so aanskoulik as wat hy lekker is nie. Ek het my bietjie misgis met die hoeveelheid vloeistof én die diepte van die oondbak, wat beteken dat die pruime begin pap kook het laaaaaank voordat die sous wou verdik. Ai. Ag wat, nie die einde van die wêreld nie. Gebruik ’n plat of groot oondbak en jy behoort goed reg te kom. Die idee is dat die pruime hul geur aan die sous verleen en andersom, nie dat hulle gaar “kook” nie. So hoe laer die vloeistof staan, hoe beter. Hoe dit ookal sy, die resultaat is wonderlik geurig en lipaflek-lekker.  Trouens, die gebakte pruime smaak só goed dat ek die res more saam met Griekse jogurt en muesli gaan nuttig.

Jeanne Calitz:stillewe:pruime2
Geurige geroosterde pruime vir eend
(of varktjoppies, noudat ek daaraan dink)
Genoeg vir 2 – met dalk  ’n raps ekstra vir poeding of ontbyt. Vir eersgenoemde behoort vanieljeroomys of mascarpone glad nie uit plek te wees nie. Ja dis dalk vreemd om mosterdsade in jou poeding te hê. Maar die lewe is nie net wit en swart nie.

Bestanddele:
6 pruime, halveer en ontpit
100 ml rooiwyn
60 ml witwyn- of sherrie-asyn
1 kaneelstokkie
¼ t geel mosterdsaadjies
¼ t koljandersade, gekneus
4 kardemomsade, gekneus
2 steranys-sade
3 E donker bruinsuiker

Metode:
Plaas al die bestanddele in  ’n oondbak en bak teen sowat 160 grade tot die pruime lekker sag raak en die sous begin prut, sowat 40 minute. Skep uit en sit voor saam met die eend (ek braai die gerookte eenborsies so 3-4 minute alkant in  ’n riffelpan), gestoomde langsteel broccoli en  ’n  skeppie cous cous. Moenie te veel kommer as die sous met die uithaalslag nie lyk of dit verdik het nie – ná so 2 minute se afkoel lyk die storie heel anders. Smaaklike ete.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s