Vars vye-slaai met sagte bokmelkkaas

Jeanne Calitz:stillewe:varsvyeDaar’s twee jong vyebome in my tuin – ’n groen vy wat heel goed aangaan in sy pot, en ’n Adamsvy in ’n groot balie, ’n boom wat verlede jaar die mooiste, grootste pers vye geskenk het. Vanjaar is die Adamsvy bietjie agter, voel ek. Sy eerste sarsies vrugte is deur die genadelose Suidooster afgewaai; daar’s nou ’n goeie oes oppad, klomp klein groen vytjies wat dapper aan die takke vasklou. Maar dis nog ’n rukkie voor hulle ryp sal wees, en intussen begin my geduld min raak, want vye is nou al WEKE lank in seisoen.

So toe my liewe skoonouers die naweek hier verbykom met ’n bakkie vol ryp vye uit hul tuin, is ek in die wolke. Want vir ’n hele ruk nou al brand ek om allerande vy-gebaseerde-lekkernye te maak. Vye gebak in die oond met tiemie en bokmelkkaas. Of vars voorgesit met ’n espresso-stroop (’n resep wat ek seker meer as tien jaar gelede in TASTE raakgelees het). Vye-roomys. Vyekoek. Vye toegedraai in parmaham, dalk gevul met ’n bietjie bloukaas vir karakter. Of net so verorber, want daar is darem min dinge so lekker en sexy soos ’n ryp vy.

Die plan was om te wag tot later die week en dalk geroosterde vye voor te sit saam met die gerookte eendborsies wat ek die naweek in Riebeek gekoop het … maar toe word ek vandag oor middagete oorval met ’n onmiddellike, onversadigbare lus vir vars vye. So toe besluit ek op ’n slaai met vars vye, gesoute vleis en sagte bokmelkkaas – redelik eenvoudig, maar ook redelik dekadent. Nie jou tipiese slaai vir ’n gewone Dinsdagmiddag nie. Ook nie juis vreeslik vullend nie. Dus: nie vreeslik prakties nie. Maar wie gee om? Dit was bitterlik lekker en dis al wat in die oomblik saak gemaak het.

Jeanne Calitz:stillewe:vyeslaai1

Slaai met vars vye en sagte bokmelkkaas
Genoeg vir 2
Soos genoem is hierdie nie ’n vreeslike vullende slaai nie, so dit sal nie die honger lank weghou nie. Jy sal dalk maar later vir jou ’n kaas-toebroodjie moet maak. Maar dis besonder lekker en kan goed werk vir ’n voorgereg as jy mense onthaal, of bloot as ligte middagete op ’n naweeksdag, saam met ’n vrugtige rosé, of miskien ’n ligte, ongehoute chardonnay.

Jeanne Calitz:stillewe:vyeslaai2
Bestanddele:
Sowat 8 medium-grootte ryp vye, in kwarte gesny
70 g gesoute vleis soos Parma-ham of Speck
100 g bronkkors (watercress) en spinasieblare
3 of 4 slaai-uie, fyngekap
halwe rolletjie sagte bokmelkkaas, in klein stukkies geskeur
So 1 E geroosterde dennepitte, om te garneer (Opsioneel, maar die pitte werk lekker saam met die vye en verleen ’n heerlike krakerigheid aan die slaai. En jy kan maar min gebruik, want die hemel weet hierdie goed is duuuuuur!)

Metode:
Verdeel al die bestanddele tussen twee borde en rangskik na wense. Geur met swart peper en bedrup met vinaigrette.

Vir die vinaigrette: 
Meng 1 E balsemasyn (ek het fynbos-asyn gebruik, balsem sal ewe goed en selfs beter werk) met ½ t Dijon-mosterd en bietjie vars peper. Voeg geleidelik 6 E olyfolie in ’n dun straaltjie by en klits deurgaans tot goed gemeng.

* Die blou blommetjies op die foto is eetbaar en kom van die komkommerkruid (borage) uit my tuin. Hier is hulle bloot gebruik vir die spatsel kleur; ek moet erken dat hul subtiele smaak heeltemal verdwyn onder die bekoring van al daardie bokmelkkaas. Ag wat, minstens is hulle mooi.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s