Laaste van die tamaties vir heerlike botter-hoender

Jeanne Calitz:stillewe:tamaties
Ek weet, dit klink vreemd – tamaties is nie iets wat mens juis met butter chicken, daardie lieflike Indiese gereg, assosieër nie. Maar vir hierdie tamaties het dit gewerk. Dis die laaste van die someroes uit my tuin, en hulle was om eerlik te wees al effens oor die muur en aan die pap kant, so dit sou nie gedeug het vir ’n slaai of om gevul te word nie nie. Die gedagte van ’n tamatiesous vir pasta het by my opgekom, maar ek is al baie lank lus om ’n geurige botter-hoender van eerste beginsels te maak, en ek weet sommige resepte vra vir gekapte tamaties …

So. Botter-hoender sal dit wees.
Jeanne Calitz:stillewe:butter chicken
Die resep het ek saamgeflans uit seker tien ander weergawes, sodat ek my tamaties kon gebruik asook die speserye van my keuse, en nie te veel room in die sous nie. Bliksem, dit het lekker uitgekom. Geurig en romerig, met net so ’n sweempie brand. En danksy die botter en room, lekker ryk (maar nie té nie). Nooit ooit weer gebruik ek kortpaaie vir hierdie gereg nie. Dit mag dalk na heelwat bestanddele lyk, maar as jy eers al die speserye het, gaan dinge eintlik baie vinnig.

Jeanne Calitz:stillewe:butter chicken3Geurige botter-hoender met vars tamaties
Genoeg vir 4

Bestanddele:
1 ui, gehalveer en in dun ringe gesny
2 knoffelhuisies, fyngekap
2 E botter
duimgrootte vars gemmer, geskil en fyngekap
1 t fyn koljander
1 t rissiepoeier
1 t garam masala
½ t borrie
½ t fyn kaneel
1 t sout
400 g ontbeende hoenderborsies of dye, in blokkies gesny
50 g tamatiepasta
1 blikkie gekapte tamaties of 4 medium vars tamaties, geskil* en gekap
⅔ k room
⅔ k water
vars koljander, om te garneer
basmatirys of roti’s, om voor te sit

* Om tamaties te skil: dompel vir 30 sekondes in kookwater, spoel met koue water af, maak ’n kruissnit op die tamatie se onderkant en trek die skil aan die punte af. Doodmaklik.

Metode:
1. Verhit die botter in ’n diep pan en braai die uie en knoffel oor matige hitte daarin tot deurskynend.
2. Voeg nou die gemmer en al die ander droë kruie by, insluitend die sout. Braai vir so 2 minute tot die geure lekker opslaan, versigtig dat dit nie aanbrand.
3. Nou kom die tamaties en tamatiepasta by, gevolg deur die room en water.
4. Roer deur tot die sous goed gemeng is en voeg dan die hoender by.
5. Laat prut vir so 15 minute tot die hoender gaar is en die sous effens verdik.
6. Garneer met vars koljander en sit voor saam met basmatirys of rotis.

Drankie: ’n geurige chenin behoort lekker saam met dié gereg te gaan …

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s