Maklike spinasie-en-spekslaai

Jeanne Calitz:stillewe:spinasieslaai2
G
ister loer ek deur my seisoenale kaart en merk op dat spinasie nou in seisoen is. Nou, spinasie is nie iets waarmee ek grootgeword het nie. Ons het dit nie in slaaie gebruik of gaar geniet nie, en ek was seker al op universiteit toe ek die eerste keer geroomde spinasie geëet het. Laasgenoemde was nie ’n aangename ontmoeting nie (inteendeel) en ek het geen begeerte gehad om dié blaar verder te leer ken nie.

Maar die afgelope ruk besef ek dat daar eintlik te min groen blare in ons diëet is. Plus, iewers langs die pad het ek ’n halfpad-lekker slaai met spek en rou spinasie by ’n restaurant geëet. So toe ek vanoggend in die winkels ’n pak gemengde blare met bloedjong spinasie daarin raakloop, begin die gedagte van ’n lekker slaai posvat. Maar iets met bietjie byt, sien, nie net blaar. So toe laai ek ’n pakkie spek in die mandjie. En ’n ryp avokado (uiteindelik weer in seisoen!) En jong boontjies (ook in seisoen). En toe ek by die huis kom, ontdek ek ’n handvol langsteel broccoli in die yskas (nie in seisoen nie, maar minstens kon ek dit nou opgebruik).

Die gevolglike slaai is stewig genoeg om ook ’n manlike eter se honger te blus, en voorts is dit regtig vinnig en maklik om aan mekaar te sit. Omtrent die meeste moeite behels die fynkap van die knoffel vir die pikante slaaisous.

Jeanne Calitz:stillewe:spinasieslaai1
Spinasie-en-spekslaai
Genoeg vir 2

Bestanddele:
200 g swoerdlose spek (of sowat 4 repies per persoon)
100 g fyn Franse boontjies
100 g langsteel-broccoli
sowat 50 g baba-spinasie en ander jong blare
halwe avokado, in skyfies gesny
gekapte slaai- of rooi uie, om te garneer
growwe peper
Vir die slaaisous:
Meng 1 E korrelmosterd met 1 fyngekapte knoffelhuisie, 3 E olyfolie en 20 ml rooiwynasyn.

Metode:
1. Braai die spek tot lekker rooibruin, haal uit die pan en klad met kombuispapier om die olie te verwyder/verminder.
2. Stoom intussen die boontjies en broccoli tot heldergroen en net-net gaar.
3. Rangskik die spinasie en blare tussen twee borde.
4. Verdeel nou die groente tussen die twee borde, gevolg deur die spek en avokado.
5. Sprinkel die gekapte uie na smaak oor, geur met peper en bedrup met die slaaisous.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s