Nuwe seisoen, nuwe lewe

Toe ek vanoggend by die agterdeur uitstap, word ek begroet deur nuwe lewe, klein tekens daarvan, orals deur die tuin. Dit was ’n aangename verrassing, en goed vir die gemoed, want die afgelope ruk is ek effens bedruk oor die aanvang van herfs. Nie dat ek ’n probleem het met herfs nie – dis ’n lieflike seisoen, veral siende die Suidoos dan gewoonlik gaan lê. Maar herfs beteken winter, en ek is nie ’n wintermens nie. (Seasonal affective disorder, is die fancy term daarvoor. Ek sulk sommer net.)

Maar al die klein groen plantjies en blaartjies en bloeisels wat hul koppe in my klein stadstuin uitsteek, het my gelukkig herinner: herfs beteken dalk die einde van somer, maar dis ook die begin van iets anders – dit bring die belofte van bont pronkertjies en ranonkels, sitrus, koejawels, ertjies, boontjies en broccoli – alles dinge wat ek met bietjie moeite en geduld uit die tuin kan toor.

En skielik raak ek sommer opgewonde, en begin met ’n visuele lysie van alles wat nou tekens van nuwe lewe toon, en dus binnekort (metafories en teoreties, in sommige gevalle) vrugte gaan dra.

Jeanne Calitz:stillewe:nuwegroei4Die boontjies wat ek ’n week gelede geplant het, het sommer oornag, vol ywer en selfvertroue, hul koppies deur die grond gesteek. Ek is altyd verbaas oor hoe sterk en vinnig dié plantjies groei. Voeg daarby die feit dat hierdie erfenis-sade nog reënboogboontjies ook gaan word (groen en pers en geel!) en soveel te beter.

Jeanne Calitz:stillewe:kerrieboom
D
ie kerrieboompie, wat tot onlangs maar redelik sukkel-sukkel aangepoer het, stoot skielik links en regs nuwe takkies uit. O hemel, ek gaan sulke lekker kerries van hom maak in die winter …

Jeanne Calitz:stillewe:nuwegroei3My eensame olyfboom begin jou waarlik tekens toon van olywe dra – en kyk net hoe mooi is die kleur! Ek is skoon verstom. Om eerlik te wees, het ek die boom gekoop vir sy mooi silwer blare, en vir die edele gedagte daarvan. Van hom sover kry om vrugte te dra, weet ek minder as niks. Ek vermoed hy het ’n maat nodig. En dat hy nog te jonk is om werklik te dra … maar belowend lyk dit nietemin.

Jeanne Calitz:stillewe:nuwegroei2Die jong suurlemoenboom was ’n geskenk van my pa op my 30ste verjaardag. Onlangs het ek haar van ’n gewisse plaagdood gered nadat nie minder as drie soorte peste haar gelyk aangeval het. Sy begin nou regtig goed lyk en het sopas vir die eerste keer in maande nuwe blaartjies uitgestoot. Bloeisels ook, maar hulle is afgewaai deur die week se suidooster. Ag wat, mens kan nie alles wen nie.

Jeanne Calitz:stillewe:nuwegroeiEn laastens het my rose, ná ’n dosis goeie bemesting, vir oulaas nuwe lote begin uitsteek. Wat beteken daar wag ’n mooi, geurige laatsomer-oes. Wat my ook herinner dat dit nou eers vroeg-herfs is. April, die mooiste maand, is nog in aantog, en daar kan nog baie dinge in die tuin gebeur. Hoe heerlik.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s