Bont & besige granaatslaai

Jeanne Calitz:stillewe:granate3Ná gister se aanvanklik frustrerende eksperiment met granate (wie sou kon dink so ’n mooi vrug sal só vol draadwerk wees?), is ek baie bly dat daar vandag genoeg granaatslaai oor is vir ’n tweede porsie en aandete, want die hemel weet twee dae in ’n ry gaan ek nie deur dié proses nie.

Aarde, gister het my geduld beproef. Iets wat ek nie eers in gister se skrywe genoem het nie, is dat (buiten die URE wat dit my geneem het om die granate te ontpit) ek in der waarheid daarin geslaag het om die couscous op te mors. Genugtig, ek het onlangs ’n soufflé met sukses gebak (dit was vir my ’n groot oomblik, OK.) En hier faal ek met die couscous – wat basies net in kookwater moet staan en uitrys. (Bloos.) Ek weet wat die fout was: aandag té verdeeld, té haastig om alles klaar te kry sodat ek die eindresultaat in die regte lig kan afneem, té gereed om gevaarlike kortpaadjies te neem.

Té, té, té. So leer mens. Kosmaak,  besef ek net weer, is bietjie soos die see: jy moet dit met respek en aandag aanpak, of dit gaan vir jou opdons. Minstens is dié slaai, die eindresultaat, die moeite werd gewees.

Bestanddele:
Lewer 4-6 porsies, afhangende van of jy dit as bykos of hoofgereg wil eet.

2 k couscous
2.5 ml sout
pitte van 2 ryp granate, met water afgespoel (dit verhoed dat die slaai heeltemal rooi vlek)
¾ komkommer, in klein blokkies gesny
¾ k fyngekapte sprietuie, of 1 fyngekapte rooi ui
handvol gekapte: kruisement, pietersielie en koljander
sap van 1 suurlemoen
4 E olyfolie
sout en growwe peper na smaak

Metode:
1. Maak die couscous volgens die instruksies op die pakkie – gewoonlik is dit mos maar net gelyke hoeveelhede couscous en kookwater, met ’n knypie sout (ek gebruik sowat 2.5 ml), en laat staan vir 5 minute om te absorbeer en op te pof.
2. Meng al die bestanddele behalwe die granate in ’n slaaibak, geur met sout en growwe peper. Laat afkoel.
3. Skep die granaatpitte by reg voor jy opskep en roer liggies deur.

* Die slaai is lekker op sy eie, maar gaan ook baie goed af saam met gebraaide lamstjoppies of geroosterde hoender.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s