Die geil granaat – en ’n les in geduld

Jeanne Calitz:stillewe:granate1

Die naweek het ek ryp granate by die Milnerton-markie raakgeloop en op die daad ’n paar gekoop, siende die winkels nog nie veel oplewer nie (ondanks die feit dat die vrug nou in seisoen is). Die plan was om ’n eksotiese, effens Marokkaanse slaai daarmee te maak; later die week dalk ’n skemerdrankie.

As ek geweet het wat op my wag, het ek dalk twee keer gedink.

Toegegee, dis is ’n besonderse mooi vrug. Aanloklik en verleidelik, met daardie bloedrooi pitte wat so blosend sit en wag. En ja, heerlik, met die soetsuur sap wat skarlaken oopbars, klein ontploffinkies van smaak op jou tong. Ek kan begryp hoekom mense swig voor dié koket; kan verstaan dat die mitiese Hades Persephone verlei het met ’n ryp granaat en haar só gekul het om ’n deel van die jaar in die onderwêreld te moes bly. Ek was self heeltemal oorrompel deur die romanse van dié rooi flerrie.

Maar genade, sy’s nie maklik nie.

Ander mense mag dalk gekonfyt wees in die granaat-ontpit-proses, maar ek is nuut op dié toneel, en liewe aarde, dis ’n morsige besigheid. Breek jy dit oop, spat daar net sap en pitte waar jy kyk. Die kombuisteëls van die splashback lyk nou heelwat anders; die gordyne voor die vensters sal ek more moet was. (Oor die klere wat ek aangehad het, wil ek liefs nie praat of wonder nie.)

Dis ook nie asof die pitte net sommerso loskom nie, o nee. Een vir een staan mens daar en uitwikkel, suutjies en versigtig, want jy wil nie die pitte kneus nie, dan’s dit net rooi sap orals waar jy kyk. Soos die storie aangaan begin ek meer gefrustreerd en geïrriteerd raak, bedag op die tyd wat aanstap en al die ander dinge wat ek nog vanaand wil doen. Maar op ’n sekere punt dring die besef toe deur dat ek nou maar moet begin ontspan en dinge rustig neem, want hierdie is nie ’n vinnige takie nie. Begin ek verstaan: dis nie veronderstel om te wees nie.

Toe onmiddellik raak dinge beter, selfs lekker. Want daar is iets bevredigends aan die manier waarop die pitte uit die roomgeel vleis van die vrug ‘pop’; die wyse waarop die klein hopie robyne geleidelik groei. Dis baie soos om vars ertjies uit die peul te dop. Dit raak amper … meditatief, en dit word die eerste keer in wat tot dusver ’n baie woeste en besige dag is, wat ek afskaal na eerste rat.

En skielik is ek bly, oor hierdie moeilike vrug. Want sekere dinge moet met aandag gedoen word, met tyd en geduld, en dis iets wat ek baie maklik vergeet op dae soos vandag, wanneer ek net so gou as moontlik kos op die tafel wil kry.

Die slaai het mettertyd klaargekom. Héélwat later as wat ek beplan het. Dit was heerlik, en ek het waardering gehad vir elke enkele pit op my bord. Gegewe die laatheid van die dag, het ek nie vanaand tyd of krag om die resep ook op te laai nie, so ek laat dit vir more. En dis ook goed so.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s