Skemerdrankie met vrolike frambose

Jeanne Calitz:stillewe:raspberry collins2
’n Ligte, gesofistikeerde skemerkelkie hierdie, ideaal vir ’n mooi, (amper) windlose naweeksaand. Ook, die perfekte manier om die laaste, eensame frambose (raspberries) in die yskas op te gebruik. Jy het nodig jenever (gin), ’n vars framboos of twee, suikerstroop, sodawater en lemmetjies of suurlemoene.

As mens nou amptelik daaroor wil raak, gaan die drankie onder die naam Raspberry Collins. Die Collins self het ’n interessante geskiedenis – die ‘Tom Collins’ spruit blykbaar uit ’n grap wat in die 1800’s in New York die rondte gedoen het. Dit sou gebeur het dat iemand ingelig word dat ene Tom Collins op daardie oomblik in ’n spesifieke kroeg sit en kuier en die vreeslikste dinge oor dié persoon kwytraak. Die persoon word dan aangemoedig om op die daad vir Tom Collins te gaan konfronteer, maar by die kroeg aangekom is daar geen teken van die sondebok nie en as die slagoffer rondvra vir Tom Collins, word hy (tot groot vermaak van die omstanders) ’n jenever-drankie in die hand gestop …

Die oorspronklike Tom Collins bestaan uit gin, suikerstroop en suurlemoensap wat met sodawater opgetop word, dan versier met ’n repie lemoenskil. Dit klink ook lekker, maar ek moet sê ek geniet die mooi pienkrooi-kleur en vrugtige karakter van die Raspberry Collins.

Jeanne Calitz:stillewe:raspberry collins1

Raspberry Collins
Lewer 1 drankie

Bestanddele:
1 sopie jenever (ek gebruik die plaaslike Inverroche)
20 ml suikerstroop*
2-3 vars frambose
lemmetjies of suurlemoen
soda- of vonkelwater

(* Kook gelyke hoeveelhede witsuiker en water – byv. 1 k tot 1 k – saam tot al die suiker opgelos het, en laat afkoel. Dit hou lekker lank in die yskas.)

Metode:
1. Meng die bessies goed saam met die suikerstroop in ’n koppie – roer behoorlik todat die bessies begin opbreek en só hul geur aan die stroop verleen.
2. Gooi die suikerstroop-en-bessie-mengsel deur ’n sif in die glas van jou keuse.
3. Voeg jenever by en vul die glas met sodawater.
4. Drup lemmetjie- of suurlemoensap na smaak by.
5. Roer deur, voeg ’n blokkie ys of twee by en garneer met ’n lemmetjieskyfie of krul suurlemoenskil. Cheers!

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s