Koud waai die windjie, warm brand die kos

Jeanne Calitz:Stillewe:brandrissies1Ek het vier verskillende soorte brandrissies in my tuin (op versoek van my man, wat ’n voorliefde het vir branderige kos) en ek kan net aanneem hulle is nou in seisoen, want die plante se takke hang laaaaaaag van al die vruggies.

Ek het wel die fout gemaak om nie fyn te let – of neer te skryf – watter soort rissies ek waar geplant het nie. Met gevaarlike gevolge.  Siende hulle nogals wissel in brandskaal, van ’n ligte klits tot driftige donderblits, beteken dit dat die kook daarmee ’n effens onsekere avontuur geword het – ek weet nooit vooraf hoe die kos gaan proe nie, want ek is nooit heeltemal seker van watter rissie vandag in die pot ingaan nie. Maar ag wat, wie nie waag nie, wen nie.

Mislike wind hier vandag, die Suidooster is weer op ons en hy waai koud en skraal. Sulke weer, voel ek, benodig stewige kos. Stick to your ribs-kos, soos die Engelse sê, en verkieslik iets met bietjie byt. So toe draf ek die resep vir chilli con carne uit (dit beteken letterlik: vleis met brandrissies), as boonop ’n lekker manier om van die rissies uit die tuin op te gebruik. Dit ’n heerlik seisonale somergereg hierdie – dit maak staat op brandrissies, tamaties en uie. Gewoonlik sit mens dit voor met rys, maar ek geniet dit nogals saam met gebakte soetpatat – wat ook nou in seisoen is. (Wat blykbaar altyd in seisoen is, ek probeer nog uitvind hoe dit werk.) Ek sit dit voor saam met koljander en lemmetjies – die vars smake keer dat die besigheid te swaar en stodgy raak, en lig dit mooitjies op.

Jeanne Calitz:stillewe:brandrissies

Chille con carne met soetpatat
Lewer 4 porsies
(As die patat nie in jou smaak val nie – ek maak dikwels die maalvleis-resep presies net so en sit dit voor saam met basmatirys. Los dan die crème fraîche en garneer dit met koljander en lekker ryp avokado, plus ’n skeut lemmetjiesap. En as jy gaste het wat nie so erg is oor branderige kos nie, skep vir hulle ’n teelepel of twee ongegeurde jogurt by om af te koel, as jy wil.)

Jeanne Calitz:stillewe:brandrissies2

Bestanddele:
1 rooi ui, fyngekap
3 knoffelhuisies, fyngekap
450 g maalvleis
½ t gedroogde tiemie
½ t gedroogde oreganum
½ t sout (of meer na smaak) en growwe peper
½ t brandrissievlokkies of so twee klein vars fyngekapte rissies
1 blikkie gekapte tamaties
50 g tamatiepasta
1 blikkie rooibone (red kidney beans)
4 klein of 2-3 mediumgroot soetpatatte
crème fraîche, om voor te sit
lemmetjies, om voor te sit
koljander, om voor te sit

Metode:
1. Verhit die oond tot 190 grade. Prik die patatte met ’n vurk, smeer met olyfolie in en rooster in die oond tot sag-sag, enigiets van 45 minute tot ’n uur.
2. Braai die uie en knoffel in bietjie olie in ’n diep pan tot deurskynend.
3. Voeg die maalvleis by en geur met die droë kruie, sout, peper en rissies. (Nota: mens kry baie soorte rissies met verskillende brandsterktes – speel dalk eerder veilig deur eers een fyngekapte rissie by te voeg, te proe en dan nog by te gooi indien nodig. Die gereg moet ’n skerpheid hê maar moet nie doodbrand nie.)
4. Voeg die gekapte tamaties en tamatiepasta by wanneer die vleis verbruin het.
5. Roer deeglik en laat die mengsel vir sowat 15-20 minute op medium prut.
6. Dreineer die bone en voeg by die maalvleis-mengsel. Roer deur en laat prut vir so 5 minute tot deurwarm.
7. Plaas ’n patat op elke bord en druk plat of sny middeldeur om ’n holte te skep vir die chilli. Skep laasgenoemde na smaak in, plaas sowat 1 t crème fraîche bo-op elke porsie, bedrup met lemmetjiesap, garneer met koljander en geur met swart peper.

2 thoughts on “Koud waai die windjie, warm brand die kos

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s