Pannekoek-weer: pofpannekoek met frambose

Jeanne Calitz:stillewe:dutch baby1Met die seëning van vandag se reënerige weer ná gister se onbehoorlike hitte, het ek besluit: dis pannekoek-weer. Wel, soort van pannekoek. Want vir ’n hele ruk al is ek geïnteresseerd in daardie unieke pofpannekoek, die Dutch Baby. Ek bedoel, die naam alleen is iets besonders, dan nie? Ander name sluit in: German pancake, die oulike Dutch puff of die Bismarck.

Dié skepping, iets tussen ’n pannekoek en ’n soufflé, het blykbaar sy oorsprong in Seattle vroeg in die vorige eeu. Dis redelik eenvoudig om te maak – jy het die gewone pannekoek-bestanddele nodig, plus ’n oondvaste pan. Hoewel ons dit as ’n heerlike laatmiddag-bederf geniet het, sien ek dis eintlik ’n ontbytkos. Nou daar’s vir jou ’n belowende idee… Die gebak word voorgesit met verskillende weergawes van warm, gestoofde vrugte (dink appels of pere) of gegeurde suikers (soos suurlemoensuiker). Die gestoofde, steeds seisoenale frambose wat ek hier gebruik, het die voordeel – benewens die hemelse smaak – dat dit die hele prentje pragtig opvrolik. Aarbeie sal ook werk en dieselfde uitwerking hê.

Vir die geleentheid het ek die klein, geliefde pannekoek-pan wat ek by my ouma geërf het, uitgehaal en afgestof. Die pan, wil ek graag uitwys, is dus nie vuil nie, hoe dit ookal mag lyk. Dis min of meer antiek ; )

Jeanne Calitz:stillewe:dutch baby2

Genoeg vir 2
Hierdie is die soort gereg wat jy onmiddellik moet eet as dit uit die stoof kom, terwyl dit nog lekker pofferig is. Die volume van hierdie resep het net-net in my klein pannetje (hoogstens 18 cm wyd) gepas, as jy die resep wil verdubbel vir vier mense, maak seker jy gebruik ’n lekker breë pan.

Bestanddele:
1.5 T ongesoute botter
½ k koekmeelblom
½ k volroommelk
2 groot eiers
3 t suiker
¼ t fynkaneel
¼ t vanielje-ekstrak
Vir die warm framboos-stroop
sowat 100 g ryp frambose
2 t strooisuiker
¼ k water
vanieljesaadjies van sowat ¼ peul (opsioneel)
Ekstra:
* versiersuiker, om oor te sprinkel (opsioneel)

Metode:
1. Verhit die oond tot 200 grade.
2. Klits die eiers tot liggeel en donsig, sowat 2-3 minute.
3. Sif die meel by, gevolg deur die ander bestanddele (behalwe die botter). Klits tot lekker glad.
4. Plaas die botter in jou oondvaste pan en verhit op ’n plaat tot dit smelt.
5. Gooi nou die beslag in die pan en plaas in die oond om te bak. Bak vir 18-20 minute, tot die deeg begin oppof langs die kante en lekker goudbruin raak. (Moet onder geen omstandighede die oonddeur opmaak om te loer nie, die hele storie kan dalk platval.)
6. Plaas intussen al die bestanddele vir die stroop in ’n pot en verhit op die stoof tot die bessies net-net uitmekaar begin val.
7. Sny die pannekoek in skywe en sit voor met die bessies. ’n Strooisel kaneelsuiker kan ook glad nie skade doen nie. Sprinkel bietjie versiersuiker oor vir die geselligheid.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s