Lipaflek-lekker Marokkaanse eiervrugslaai

Jeanne Calitz:stillewe:eiervrugte1As daar een ding is wat ek die afgelope paar maande geleer het oor eiervrugte, is dit die volgende: hulle is BAIE goed vir die begroting. Ek het slegs twee plante in my tuin. Maar sedert Januarie dra dié twee sonder einde. Vanaand is seker die vierde keer in soveel weke wat ons aandete se basis bestaan uit ’n eiervrug-resep. (Erm, dis natuurlik ook die rede hoekom dit so baie op die blog verskyn – ek voel moreel verplig om dit op te gebruik.) Terug by die begroting: wat het dit my gekos, vra jy? Sowat R20 elk vir die plante, bietjie tyd en moeite en natlei … winskoop.

En steeds is die einde nie in sig nie. Iets waaroor ek baie bly is, want ná ’n paar kerries, het ek vandag vir die eerste keer met ’n Marokkaanse resep geëksperimenteer. Dit was ’n keerpunt. Die eiervrug is, om dit eenvoudig te stel, gemáák vir dié Mediterreense cuisine. Dit slurp eenvoudig al daardie lekker dinge soos olyfolie, paprika, komyn en koljander op. Boonop raak dit, ná ’n rukkie se gerooster in die oond, smeltsag. Ek wil selfs sê: romerig. Ná die eerste hap begin ek dink, maar hierdie sal mos ’n hemelse doopsous maak! En toe sien ek ja, daar is in der waarheid ’n groot verskeidenheid doopsouse met eiervrug. Iets om op ’n ander dag te ondersoek.

Vir nou, ’n heerlike en lekker maklike eiervrugslaai. Dit gaan uitstekend saam met gebraaide varktjoppies; môre eet ons die oorskiet met geroosterde engelvis. Saam met ’n bietjie cous cous – of eintlik net so alleen – maak dit ook ’n wonderlike vegetariese ete …  Die slaaisous is propvol geur, en die kontras tussen die sagte, rokerige eiervrug en die krakerige rooi uie is regtig iets besonders.

Marokkaanse slaai met geroosterde eiervrug
Lewer 4 porsies
Jeanne Calitz:Stillewe:eiervrugslaai2

Dié resep het ek gevind op BBC Good Food, en effens aangepas.

Bestanddele:
2 groot eiervrugte, in dik skywe gesny
3 tot 4 medium tamaties, ontpit en in blokkies gesny
1 rooi ui, in fyn repies gesny
olyfolie
1 blikkie kekerertjies (chickpeas), afgespoel
sout en growwe peper na smaak
halwe handvol pietersielie, grofweg gekap

Vir die slaaisous:
4 T olyfolie
1 t elk fyn komyn en paprika
1 t heuning
sap van een medium suurlemoen

Metode:
1. Verhit die oond tot sowat 180 grade.
2. Smeer die skywe eiervrug aan albei kante met olyfolie, geur met sout en peper en rooster vir so 15 minute aan elke kant in die oond, of tot goudbruin en sag-sag.
3. Haal die eiervrug uit, sny in happiegrootte stukkies en meng met al die ander slaai bestanddele.
4. Meng die bestanddele vir die slaaisous goed saam, drup oor die slaai en meng versigtig deur (jy wil nie hê die sagte eiervrug moet heeltemal disintegreer nie). Sit warm of koud voor, saam met vis, geroosterde vark- of lamsvleis, of bloot as vegetariese hoofmaaltyd.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s