In die tuin: seisoene & siklusse

Jeanne Calitz Stillewe tuimaak2Vanoggend staan ons op, en vir die eerste keer in meer as ’n week waai die wind nie hier in Woodstock nie. Ek het omtrent nie eens my koffie klaargedrink nie, toe’s ek uit by die deur om te sien hoe staan sake in my tuin.

Dit voel soms vir my mens gaan deur siklusse met tuinmaak. Partykeer is jy in ’n siklus van keer: keer voor, en keer agter; tye wanneer al wat ’n pes en plaag is toesak en alles wat mooi en groen is wil verorber. Dan is dit vir spuit en knip, baklei en stry en hoop vir die beste (veral as jy organies probeer tuinmaak).

Ander kere voel dit weer vir my al wat ek doen is instandhouding: snoei hier, bemes daar, trek onkruid uit totdat dit voel my rug gaan afbreek, skuif plante wat nie so goed vaar waar hul staan nie na ’n vriendelike kolletjie elders. Ek het niks teen hierdie siklus nie, dis nodig en dit is ook nogals bevredigend, siende jy eintlik besig om netjies te maak – maar dis nie juis opwindend nie.


En dan is daar die derde siklus – wanneer dit tyd is vir nuwe dinge. Wanneer die tamaties se blare dofgeel begin raak en jy weet die einde is in sig – binnekort sal jy hulle uithaal, om weer iets nuuts in hul plek te plant. Wanneer die seisoen begin draai en die tyd aanbreek om te saai vir groente vir winter (broccoli!) en lente (ertjies!). Wanneer jy handdoek ingooi en tog maar nog ’n boom koop, ten spyte van jou beste voornemens en die wete dat daar eintlik nie meer plek op die erf is vir nog ’n vrugteboom nie. Hierdie is ongetwyfeld my gunsteling siklus. Dit gaan gewoonlik gepaard met ’n kwekery-besoek, en daar is altyd ’n oomblik wanneer ek besluit: te hel met die begroting, en voortgaan om heeltemal te veel plante te koop. Dis ’n soort groen malligheid, ’n tydelike waansin wat jou verlaat die oomblik wat jy by die huis kom en besef jy het per ongeluk iets gekoop wat jy al reeds in die tuin het. Maar ag wat, geen groot skade. Ek put soveel vreugde uit hierdie fase, is so verlief op die potensiaal van die oomblik, dat ek g’n niks omgee nie.

Toe ek vanoggend in die tuin instap, en besef hierdie klein stadstuin is vir die oomblik in die derde siklus, toe gaan dit sommer goed. En toe ek aankom by die Ferndale-kwekery in Constantia, met sy lieflike verskeidenheid plante en die geluid van duiwe wat rustig koer in die agtergrond, toe gaan dit sommer baie goed. Ek het darem min of meer daarin geslaag om matigheid voor oë te hou – is daar uit slegs met een sitroenkruid (lemon verbena), ’n koljander en ’n paar pakkies saadjes. O, en ’n lemmetjieboom. Laasgenoemde, moet ek noem, was nie ’n impulskoop nie, ek smag al lank na een. Hy gaan langs my klein suurlemoenboom staan, die een wat ek op my 30ste verjaarsdag by my pa gekry het. Nou kort ek net ’n rooi pomelo (ruby grapefruit), dan het ek ’n hele sitrusboord! (Alles is relatief.)

Jeanne Calitz Stillewe tuinmaak1In elk geval, die lemmetje sal ek more by uitkom. Vandag was te warm om sakke swaar potgrond rond te dra. Vir eers het ek gewag tot die son sak en uiteindelik die erfenis-saad wat ek in Desember by Woolworths gekoop het, in houertjies geplant. Ook deel van die nuwe dinge-siklus. Veelkleurige boontjies, pers blomkool, pienk en wit gestreepte beet, bloedrooi wortels – as alles opkom en groei gaan my tuin lyk asof ek dit ge-tie-dye het. Ek kan nie WAG nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s