Blitsvinnige chorizo-pasta

Jeanne Calitz:stillewe:chorizo-pastaDie Italianers het ’n punt beet, dink ek. Loer bietjie deur hul resepte en jy sal sien dis oorwegend eenvoudig, met min bestanddele. Die idee is om goeie bestanddele te gebruik, dan hoef jy nie veel daaraan te karring nie.

Dis ’n kosfilosofie wat my regtig geval. Veral op dae wanneer daar nie veel in die koskas aangaan nie, wanneer daar nie tyd is vir inkopies nie, en wanneer die kafee of deli op die hoek dus sal moet deug.

Gister was só ’n dag. Min tot niks in die huis, en weens ’n besige dag met ’n paar vryskut-artikels kon ek eers teen vyfuur se kant begin wonder wat op dees aarde ons gaan eet. By die deli op die hoek gewaar ek toe ’n stewige stuk chorizo wat lekker lyk. Voeg daarby ’n pak pasta, gekapte tamaties, ’n paar ontpitte olywe en ’n handvol tiemie uit die tuin, en siedaar, koningskos.

Dié pasta het ook ’n bietjie byt aan hom. Die chorizo se verpakking het belowe dis warm en branderig, vandaar die idee. By die huis gekom is daar van die brand toe geen teken nie, maar teen daardie tyd was die behoefte gevestig, so toe help ek sake so effens aan met die toevoeging van olywe gegeur met brandrissie, en ’n rissie of twee uit die tuin. Lekker! Let wel dat die chorizo daarvan ’n redelike ryk storie maak, so ek sou nie parmesan byrasper nie, maar nes dit jou behaag.

Continue reading

Klein vreugdes: rose uit die tuin

Jeanne Calitz:stillewe:rose
D
aar’s min dinge in die lewe wat my so gelukkig maak soos rose uit die tuin. Hulle hou natuurlik nie so lank soos winkelrose nie en is geensins so perfek nie, maar tuinrose het net soveel meer karakter, soveel meer geur.  Saterdag het ons mense genooi vir ete en in plaas van ’n bos blomme in die winkels gaan koop, kon ek die tafel versier met die blomme van ’n paar van die tuinrose wat hier groei.

Die perske-kleurige roos heet Just Joey; hy spog met groot, stewige blomblare en iets van ’n groen appel in sy geur. Dan is daar die pienk tutu van ’n roos, ’n ou Engelse-styl roos met die naam Abraham Darby, as ek reg onthou, en die soet aarbeigeur van rooi koeldrank – maar op ’n goeie manier. En laastens op die foto is die sagte pers roos met die wonderlike hippie naam van Purple Moon – en ek sweer daar skuil ’n titsel litsjie in sy geur.

Daar’s nog ’n hele paar ander in die tuin wat nie tans dra nie: óf hulle is klaar geblom vir die seisoen, óf daar is nog ’n paar laat roosknoppe oppad, tot my groot dankbaarheid.

Daar’s die Beach Beauty, wat klomp oranje knoppe maak wat mettertyd helderpienk en met al die subtiliteit van ’n cheesy sonsondergang afsluit. Daar’s die Mr Lincoln, wat vreemd skaam is hierdie seisoen maar gewoonlik spog met dramatiese, dieprooi blomme en die intense rooi roos-geur wat mens assosieër met romanse en Valentynsdag. Daar’s Marvellous Rita, ’n robuuste roos wat talle roomkleurige blomme met digte blare uitstoot, ’n roos met die outydse sjarme van vervloë jare, dink Gone with the Wind. En dan is daar een enkele klein dwergrosie wat elke nou en dan haar slag wys met klein, sagte pienk blomme wat haar naam (Foxy Lady) gestand doen.

Daar’s ook ’n geel rankroos wat my telkens laat swymel met die vars suurlemoengeur van sy blomme; die kersiepienk Vanessa in die hoek wat die mooiste blomme maak maar net om 12:00 na enigiets ruik, en ’n roos met die naam Confidence wat GLAD nie op haar naam trek nie en verpiep en verlep aankarring. (Waarskynlik meer my skuld as hare.)

Maar maak nie saak hoeveel rose daar in my tuin groei nie, ek wil altyd nog hê. Die versoeking is altyd daar om nog een pot te koop, nog een gat iewers te grawe, nog ’n roos met ’n bekoorlike naam iewers in te smokkel. Soveel geure en kleure; soveel verskeidenheid. ’n Roos is nie net ’n roos nie. Hoe wonderlik is dit nie?

Dis Vrydag! Appel-en-basilie-martini

Jeanne Calitz:stillewe:appel-martini

Reg, so ek weet die afgelope paar weke se drankies is almal gin-gebaseer. Maar dit is wat ek in die huis het, en dis baie goeie jenever (Inverroche), so dit is waarmee ek werk. Vir nou. Mens gaan seker deur fases. ’n Paar jaar gelede het ek hard geval vir die sjarme van die mohito, dus was daar (tot my man se groot vermaak) vir ’n ruk lank ’n bottel rum in die huis. Darem wit rum, hoewel dit seker nie veel beter is nie. Daarna het ek geswig voor die versoeking van die margarita, so toe kom daar ’n bottel tequila by.

Daar was ook ’n vlugtige flirtasie met bourbon, Amerikaanse whiskey, maar daar het ek meer gehou van die idee as die smaak, en die mint julep (is dit nie ’n wonderlike naam nie?) wat ek daarmee wou maak is veels te sterk vir my gestel. (Dis basies bourbon, mentblare, ys en suiker.) Ek vermoed jy moet dalk van die suidelike state van Amerika kom om werklik daardie drankie te kan waardeer. Sedertdien het ek dus aangeskuif na gin.

Genade, ek besef dit klink vreeslik. Dis darem nie asof ek die goed skoon drink nie. Dit hou laaaank (protesteer sy) en word, soos hier gewys, gebruik vir skepping van verskeie soorte skemerdrankies. Van alles hou ek amper die meeste van die seremonie van die ding. Die mooi glase, die afmeet en skud en roer, die oneindige verskeidenheid geure en kleure. Die vroulikheid daarvan. Die lekkersê- of lawwe name.

Soos hierdie een, byvoorbeeld. Die Engelse naam sal waarskynlik appletini heet. Dit klink dalk soos iets uit die Cosmopolitan-tydskrif, maar eintlik is dit ’n baie subtiele en elegante konkoksie. En omdat ek vars uitgedrukte appelsap gebruik, glad nie te soet nie. Siende appels nou in seisoen is (dis ’n herfsvrug, ek het nooit geweet nie) voel dit vir my hierdie is net die regte drankie om ’n koelerige herfsdag mee af te sluit.

Bestanddele:
Lewer 1 drankie

1 sopie (sowat 90 ml) gin
2 sopies (sowat 180 ml) varsuitgedrukte appelsap (van Granny Smith-appels)
5 ml lemmetjiesap
paar vars basilieblare

Metode:
Voeg al die bestanddele in ’n mengfles en roer goed sodat die basilie se geure deurkom. Plaas ’n blokkie ys in ’n martiniglas en gooi die vloeistof bo-oor.
Opsioneel: Proe of dit jou behaag – as dit nie soet genoeg is nie kan jy bietjie strooisuiker by roer in die fles.
Belangrik: die appelsap sal begin verbruin gou nadat jy dit uitgedruk/gepars het, so gooi die lemmetjiesap onmiddellik by om dit te verhoed.

Oor impulsiewe plant-inkopies

Jeanne Calitz:stillewe:winterplante
So, danksy die onvoorspelbare vryheid van die lewe as vryskut-joernalis, kon ek vandag die meeste van my tyd in die tuin deurbring. (Dit klink dalk wonderlik – as tuinmaak jou ding is – tot jy die sommetje maak en besef een weeksdag se plesierige tuinmaak is ook een volle dag wat jy nie verdien nie. Maar wat, geld is nie alles nie.)

En ek moet erken, dit was wel ’n héérlike dag. Dinge het begin met ’n besoek aan die kwekery, waar ek eintlik net sakke potgrond en ’n paar winter-blombolle en pronkertjes wou koop … Toe ruk sake oudergewoonte handuit, en is ek daar weg met BAIE meer groen goed as waarvoor ek plek het.

Continue reading

Soetsuur gebakte pruime saam met ’n eendjie

jeanne calitz:stillewe:pruime Verlede week het ek ’n draai in die Swartland gegooi vir ’n storie vir Eat Out, en ’n punt daarvan gemaak om aan te gaan by die klein, ougat algemene handelaar Crisp in Riebeek Kasteel. Hier kan jy allerande handige lekkernye koop wat nie orals beskikbaar is nie (soos gerookte eendborsies) asook meeste van die daaglikse benodighede soos vryloop eiers, vars vrugte en groente so reg van die plaas, pasta en dies meer. Wens ons het so ’n plekkie in Woodstock gehad …

In elk geval, ek is daar weg met onder meer ’n pakkie gerookte eendborsies (’n luukse wat ek ons so een keer elke twee maande gun) en die idee om ’n lekker soetsuur-sous daarmee voor te sit. En toe ek gister in die winkels kom en moontlik die laaste van die seisoen se ryprooi pruime gewaar, toe’s die koeël deur die kerk. Sela.

Hierdie resep, moet ek erken, is nie so aanskoulik as wat hy lekker is nie. Ek het my bietjie misgis met die hoeveelheid vloeistof én die diepte van die oondbak, wat beteken dat die pruime begin pap kook het laaaaaank voordat die sous wou verdik. Ai. Ag wat, nie die einde van die wêreld nie. Gebruik ’n plat of groot oondbak en jy behoort goed reg te kom. Die idee is dat die pruime hul geur aan die sous verleen en andersom, nie dat hulle gaar “kook” nie. So hoe laer die vloeistof staan, hoe beter. Hoe dit ookal sy, die resultaat is wonderlik geurig en lipaflek-lekker.  Trouens, die gebakte pruime smaak só goed dat ek die res more saam met Griekse jogurt en muesli gaan nuttig.

Continue reading

Vars vye-slaai met sagte bokmelkkaas

Jeanne Calitz:stillewe:varsvyeDaar’s twee jong vyebome in my tuin – ’n groen vy wat heel goed aangaan in sy pot, en ’n Adamsvy in ’n groot balie, ’n boom wat verlede jaar die mooiste, grootste pers vye geskenk het. Vanjaar is die Adamsvy bietjie agter, voel ek. Sy eerste sarsies vrugte is deur die genadelose Suidooster afgewaai; daar’s nou ’n goeie oes oppad, klomp klein groen vytjies wat dapper aan die takke vasklou. Maar dis nog ’n rukkie voor hulle ryp sal wees, en intussen begin my geduld min raak, want vye is nou al WEKE lank in seisoen.

So toe my liewe skoonouers die naweek hier verbykom met ’n bakkie vol ryp vye uit hul tuin, is ek in die wolke. Want vir ’n hele ruk nou al brand ek om allerande vy-gebaseerde-lekkernye te maak. Vye gebak in die oond met tiemie en bokmelkkaas. Of vars voorgesit met ’n espresso-stroop (’n resep wat ek seker meer as tien jaar gelede in TASTE raakgelees het). Vye-roomys. Vyekoek. Vye toegedraai in parmaham, dalk gevul met ’n bietjie bloukaas vir karakter. Of net so verorber, want daar is darem min dinge so lekker en sexy soos ’n ryp vy.

Die plan was om te wag tot later die week en dalk geroosterde vye voor te sit saam met die gerookte eendborsies wat ek die naweek in Riebeek gekoop het … maar toe word ek vandag oor middagete oorval met ’n onmiddellike, onversadigbare lus vir vars vye. So toe besluit ek op ’n slaai met vars vye, gesoute vleis en sagte bokmelkkaas – redelik eenvoudig, maar ook redelik dekadent. Nie jou tipiese slaai vir ’n gewone Dinsdagmiddag nie. Ook nie juis vreeslik vullend nie. Dus: nie vreeslik prakties nie. Maar wie gee om? Dit was bitterlik lekker en dis al wat in die oomblik saak gemaak het.

Jeanne Calitz:stillewe:vyeslaai1

Continue reading

Salige Sondae

jeanne calitz:stillewe:sondag1
T
wee soorte Sondae in my lewe. Die besige soort, wanneer dit skielik nodig word om allerande produktiewe dinge te doen sodat die res van die week goed kan verloop: wasgoed was, kos gaan koop, kos maak, opwas, dalk selfs ’n gym-sessie laatmiddag. Gewoonlik is ek teen die einde van hierdie soort Sondae redelik krapperig en uitasem – veels te min tyd vir rus en vrede, vir net rondlê en droom.

En dan is daar die ander soort Sondag. Die dae wanneer ons geen planne het nie, en doelbewus bepan om dit so te hou. My gunsteling soort Sondag, hierdie. ’n Dag van laatslaap, en koffie en beskuit in die bed (een van die lewe se groot luukses) wanneer jy wel wakker word. ’n Dag van nog so bietjie sluimer onder die kombers, of dalk bietjie lees, voordat die besef deurdring dat dit eintlik ’n pragtige dag buite is, en dat jy seker iewers moet opstaan.

Tyd, tyd. Hoe heerlik wanneer  jy tyd het om te besluit wat die dag dalk mag bring. Tyd vir nog ’n koppie koffie. Tyd om rustig deur die tuin te drentel, dalk ’n gieter of graaf te gryp en hier en daar te werskaf. Tyd genoeg om deur die vrieskas te loer en te sien, wonder bo wonder, daar’s ’n plathoendertjie; ’n paar patatte in die kas; genoeg groengoed vir ’n nederige slaai – geen rede om vandag winkels toe te gaan, ons het alles wat nodig is vir ’n rustige braai.

Tyd vir ’n middagslapie, dalk later. Vir ’n koppie rooibostee met die wakkerword. En teen skemer, wanneer die wind opkom en treurig om die huis se hoeke begin huil, en die Sondag-blues dreig-dreig om die dag se rus en vrede te ondermyn … dan’s dit tyd vir ’n bietjie musiek. Vrolike deuntjies wat die bloutes wegblaas – bietjie swing-musiek uit die 50’s dalk. Met die platespeler wat gewillig diens doen in die hoek, ’n boek in die een hand en ’n glas rooiwyn in die ander, het ek regtig geen rede om te kla oor hierdie uur, of hierdie dag nie. Inteendeel.