Sysagte, intense druiwe-sorbet

Jeanne Calitz Stillewe druiwesorbetSo, hiermee die druiwe-sorbet wat die resultaat is van gister se druiwe-oes. Ek is baie in my skik met die kleur, so ’n mooi diep-pers danksy al daardie klein druiweskille. Die tekstuur het ook lekker glad uitgekom en die smaak is baie intens – dit proe amper meer na wyn as druiwe, maar dis héérlik. Uiteindelik is dit ’n redelike parmantige sorbet, die soort wat jy in klein bakkies geniet ná ’n groot ete.

Roomys, kom ek agter, is ’n bliksem om af te neem, veral op ’n warm dag. Jy dink nog alles gaan goed, dan begin dit smelt (al teen die glasrand af; my eerste foto’s was in ’n glaskelkie, mini-ramp en semi-histerie, later lyk dit soos ’n pers melkskommel, toe sit ek dit maar terug in die vrieskas om te vries). En dan is al daardie pragtige ysige tekstuur skielik daarmee heen.

Ag wat, aan die smaak makeer daar gelukkig niks nie. Ek het ook bietjie van die sorbet-mengsel in hartjievormige ysbakkies gevries, en sien daarna uit om dit iewers saam met ’n warm, dronk poeding (dalk ’n aanpassing van die rum & raisin-idee?) voor te sit en kyk hoe die hartjies al oor die warm nagereg smelt …

Jeanne Calitz Stillewe druiwesorbet1

(Resep aangepas van marthastewart.com)

Bestanddele:
Lewer 4-6 porsies

750 g pers druiwekorrels, deeglik afgespoel
100 ml water
20 ml suurlemoensap
suikerstroop*, tussen 100 en 200 ml. (Hier hang dit absoluut af van jou druiwe, die wyndruiwe uit ons tuin is baie suurder as gewone tafeldruiwe, as jy laatgenoemde gebruik sal jy beslis minder suiker nodig hê, proe en toets self)

Metode:
1. Plaas die druiwe en die water in ’n pot oor medium hitte en kook vir so 5 minute totdat die korrels begin oopbars en die water pers begin vlek.
2. Gebruik ’n aartappelstamper en druk die korrels goed plat. Kook vir nog so 5 minute en gooi dan deur ’n fyn sif. Maak seker dat jy so veel moontlik sap opvang.
3. Plaas die bak met die sap in ’n ysbak om af te koel (ek het die wasbak vol ys gegooi en die bak bloot daarin laat staan).
4. Wanneer dit bietjie afgekoel het, kan jy die suikerstroop en suurlemoensap bygooi – proe of dit soet genoeg na jou wense is. Laat afkoel tot yskoud.
5. Gooi nou die mengsel in ’n roomysmasjien en laat loop volgens die masjien se instruksies. As jy nie ’n masjien het nie, skep die mengsel in ’n roomysbak, plaas in die vrieskas vir so ’n uur, haal uit en roer goed deur met ’n vurk om die yskristalle op te breek. Plaas terug in die vrieskas en herhaal die proses tot jy tevrede is met die tekstuur.

* Om suikerstroop te maak: Kook gelyke hoeveelhede witsuiker en water (byvoorbeeld 1 k tot 1 k) tot al die suiker opgelos het, en laat behoorlik afkoel.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s