Laatmiddag-koek van pruime en bloubessies

pruimkoek3Eintlik was die plan om vandag ’n sorbet te maak, ‘n persrooi druiwe-sorbet, om presies te wees. Maar hier teen 15:00 word ek oorval deur ’n dringende behoefte aan koek. Enige koek. Nie mooi of groot of fancy nie.

Net koek, asseblief tog en om hemelsnaam. Nóú.

Ek storm wanhopig in die kombuis in en sien, hoera, daar is nog bloubessies van verlede week se sjokolade-bruintjies met bessies oor. En ek het gister pruime gekoop. En ons het meel, suiker, eiers … Só kom dinge vinnig bymekaar en kort voor lank staan en meng ek aan ’n eenvoudige pruim-en-bloubessiekoek.

pruimkoek2

En dit vervul al die vereistes. Dis nie groot of fancy nie – dis eintlik effens plat. (Dis eintlik baie plat. Ag wat, mens kan nie alles kry in die lewe nie.) Maar dit smaak wonderlik. En soos die vrugte bak vlek dit die deeg die mooiste donkerpienk en -pers kleure. ’n Pimpel en pers-teekoek, dus. Of, in ons geval, die ideale pasmaat vir ’n koppie koffie, laatmiddag. En ’n lekker alternatief vir ontbyt, more. (As dit die oggend haal. Ek maak geen beloftes nie.)

pruimkoek1

Pruim-en-bloubessiekoek
Bestanddele:
½ k bloubessies (of meer, na smaak)
2 ryp pruime, ontpit en in wiggies gesny
2 T botter, teen kamer-temperatuur
2 groot eiers
twee derde koppie korrelsuiker (granulated sugar)
2 T strooisuiker
1 t vanielje-ekstrak
½ k melk
1 k koekmeelblom
1 t bakpoeier
½ t sout
¼ t fynkaneel

Metode:
1. Verhit die oond tot 180 grade en smeer ’n 23 cm losboompan met botter uit. (As jy regtig wil seker maak dit kom maklik uit, voer die bodem met bakpapier uit wat gesny is om te pas.)
2. Meng die botter, eiers en suikers saam en roer goed tot liggeel en glad.
3. Voeg die melk en vanielje by en roer deur.
4. Sif die meel, sout, kaneel en bakpoeier in ’n aparte bak saam, meng goed en voeg dan by die nat mengsel.
5. Voeg die bloubessies by en roer ligweg deur.
6. Gooi die deeg in die pan en pak nou die wiggies pruim bo-op.
7. Bak vir sowat 40 minute of tot goudbruin en pofferig.
8. Laat afkoel voor jy dit probeer uitkeer. Die koek is baie lekker netso saam met koffie, of jy sou dit warm en met ’n skeppie mascarpone kon voorsit …

(Resep aangepas van sheeats.ca.)

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s