Beeldskone bessies & sjokolade-kolwyntjies

bessies voor
Ek het besluit: dis onmoontlik om die versoeking van die pragtige bessies wat nou in seisoen is te weerstaan. So ek probeer nie. Dis eenvoudig te mooi, te aanloklik. En veelsydig – om die uitgawe te regverdig, probeer ek dit by soveel as moontlik geregte insmokkel. In slaaie, saam met ontbyt (soos die heerlike bloubessie plaatkoekies van die ander dag), en saam met poeding.

Baie beslis saam met poeding. Wat die rede is vir hierdie post.

Gisteraand was my beurt om boekklub aan te bied en vir die geleentheid was ek lus om iets met bessies vir nagereg voor te sit. Iets met sjokolade as basis.
Ná ’n rukkie se digitale omswerwinge het ek afgekom op ’n resep vir sjokolade-bruintjies (brownies) in die vorm van kolwyntjies, met geklopte room en vars bessies. Soos ’n vriendin dikwels sê: Wat van JA!? Die BBC Good Food resep het kersies gebruik, ook in die deeg. Maar kersies is nie nou meer in seisoen hier nie en buitendien wou ek die lieflike kouerigheid van die bruintjie net so geniet. So, sommer net gemengde bessies wat bo-op die koek en geklopte room gestapel word. Met ’n sifsel kakao vir mooiheid. Bitterlik lekker, waarlik.

bessies na

Sjokolade-kolwyntjies met vars bessies
Lewer sowat 9

Die vars, soetsuur smaak van die bessies sny heerlik deur die ryk sjokoladekoek hier, met die room wat alles net so aks lig. Die koekies bak nie so hoog soos gewone kolwyntjies nie en sink selfs bietjie in, maar sodoende dit vorm die perfekte klein holte vir die room en bessies. Dit sal beslis ook werk as jy dit warm voorsit, met roomys in plaas van room.

Bestanddele:
150 g donkersjokolade, in blokkies gebreek
120 g sagte botter
180 g sagte bruinsuiker
60 g koekmeelblom
35 g kakao
¼ t bakpoeier
knippie sout
2 groot eiers, geklits
1 t vanielje-ekstrak
125 ml room, geklop saam met ’n ½ t strooisuiker, om voor te sit
vars gemengde bessies, om voor te sit

Metode:
1. Plaas die botter in ’n pot op die stoof oor medium hitte. Voeg die sjokolade en suiker by en roer tot alles opgelos het, hou fyn dop dat dit nie aanbrand nie.
2. Sif intussen die meel, kakao, sout en bakpoeier saam in ’n mengbak.
3. Haal die sjokolade-mengsel van die stoof af en skep dit in die mengbak, gevolg deur die eiers en vanielje. Roer kortliks saam tot alles goed gemeng is.
4. Voer ’n muffinpan uit (sien Nota) en vul die muffinholtes so twee derdes met die mengsel, dit behoort so 9 porsies te lewer.
5. Bak teen 180 grade vir 20 minute, haal uit die stoof en laat afkoel.
6. Skep ’n lepelvol room op elke kolwyntjie en versier met vars bessies.

Nota: die oorspronklike resep stel voor dat jy die bruintjies in kolwyntjiehouertjies bak om dit dan later maklik uit die pan te verwyder. En ja, dit kom so wel maklik uit die pan. Maar om die papier later self van die koek af te kry? Moenie glo nie. Dit is immers ’n taai besigheid, nie jou gewone, inskiklike kolwyntjie nie. Dus, ek sou voorstel gebruik eerder ’n silicon-pan, of plaas klein sirkels bakpapier onder in die muffinpan en smeer die rante met botter. Dit het my seker 20 minute geneem om die papier af te trek en teen die einde was ek bietjie krapperig. Maar gelukkig was dit toe dadelik tyd vir poeding. En toe is als beter.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s