Perfekte pere

pere voor1

Altyd as ek aan pere dink, kom daardie ou advertensie van die jare 90 by my op van die vrou wat met haar vingers sit en tik langs ’n bak pere terwyl sy wag dat hulle ryp raak, en elke nou en dan so voel-voel om te toets of dit al tyd is.

Wel, met pere nou in seisoen, is dit tyd. Geen meer van daardie klipharde lummels in die winkels wat jou geduld eindeloos beproef nie, die pere wat ek die afgelope week of wat raakloop moet sommer dadelik geëet word, of jy verloor jou kans. Ek’s nogals lief vir pere as poeding. In die winter natuurlik gestoof in rooiwyn saam met kaneel, en bedrup met ’n donker sjokoladesous. En in die somer, wel dan werk ’n vrugtige witwyn (of ’n vrolike moscato!) ewe goed, veral met tuisgemaakte vla of, as jy regtig dekadent wil raak, ’n sous van wit sjokolade en room.

Die afgelope ruk was ek egter lus om te ekperimenteer met pere as ’n bestanddeel vir ’n hoofgereg, en hierdie heerlike (en uiters eenvoudige) resep is die gevolg. Varkvleis en pere kom uitstekend oor die weg. En as jy ’n bietjie appel- of peerbier (cider) in die huis het, gooi gerus ’n eetlepel of twee by terwyl die pere gaar word, dit kan geen skade doen nie.

Varktjoppies met pere en roosmaryn
Genoeg vir 4

pere na

Bestanddele:
6-8 varktjoppies (ek skat dit 1 tjoppie per vrou en 2 per man, besluit maar self hoe honger jy is …)
4 redelike ryp pere (verkieslik nie papryp nie)
1 rooi ui, in dun repies gesny
sout en swartpeper
olyfolie
2 T rooiwynasyn
vars roosmaryn, sowat ½ t se blare

Metode:
1. Geur die tjoppies met sout en peper en verbruin aan beide kante in ’n pan.
Haal uit die pan en hou eenkant.
2. Sny die pere in kwarte en verwyder die stronk-gedeelte, sny dan verder in skywe van sowat 6-8 mm dik. Plaas die pere in dieselfde pan as waarin jy die vleis gebraai het. Voeg die rooiwynasyn en roosmaryn by. Braai die pere oor medium hitte vir 5 minute.
3. Gooi nou die uie by en braai die hele mengsel verder tot die uie begin versag.
4. Plaas die varktjoppies terug in die pan en braai tot gaar na jou smaak, maak seker al die bestanddele meng lekker. Moenie te veel bekommer as die pere begin sagraak en ‘uitrafel’ nie – dit maak vir ’n baie lekker sous.
5. Skep uit en sit voor – hoe meer van die pere bo-op die tjoppies, hoe meer vreugde.

Ek het lank gewik en geweeg oor wat om voor te sit saam met hierdie gereg. Aartappels het te swaar gevoel en soetpatat te soet, en die pere is mos reeds soet. Uiteindelik het ek besluit op ’n vars, verfrissende slaai van gerasperde rooi koolkop, wortels, sprietuie en gemmer. ’n Heerlike slaai waarvan amper al die bestanddele ook in seisoen is, een waarvan ek die resep later sal opzit.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s