Groen vingers (al dan nie)

tuinroos
Elke nou en dan word die besef kliphard by my tuisgebring: ek is nie ’n natuurlike tuinier nie. Ek het nie die sogenaamde “groen vingers” waarvan mense praat nie. Dat so iets bestaan, twyfel ek nie; ek het dit by my ouma gesien.

My ma se ma, Ouma Dôttie (kort vir Dorothea), het ’n spogtuin in Jeffreysbaai gehad. Orals waar sy gegaan het, het sy plantjes gekoop, gebedel of selfs by geleentheid langs die pad gegaps, net om dit dan met haar tuiskoms sonder enige seremonie in die grond te druk – waar dit amper onmiddellik posgevat en vrolik voortgegroei het. Ek het my liefde vir tuinmaak by haar geërf, maar ongelukkig nie soveel van haar natuurlike aanleg nie.

Daarvan getuig die duisternis dooie plante op my rekord, ontelbare onskuldige groen slagoffers in my verlede. Net verlede  Vrydag is dit weer bevestig toe ek, swetend en swetsend in die son, vir meer as ’n uur gespook het om twee romanesco-plante voor hul tyd uit hul beddings te verwyder. Die een dag het hulle nog geil en moeiteloos gegroei. Die volgende dag was hulle oortrek, oortrek, van nie een nie maar twee peste: groen plantluise in hul miljoene, en groot geel vet wurms wat kou en kou en kou, die bliksems. Geen vorm van ordentlike organiese spuitgoed sou hier help nie, die uur was te laat (en ek is klaar met chemiese middels), dus was daar net een oplossing: die goed moes uit.

romanesco

So gebeur dit dat ek, bewapen met rubberhandskoene, ’n snoeiskêr en moord in my hart, die taak aanpak. Wat ’n gemors. Die romanesco’s (foto bo, dis daardie kruising tussen broccoli en blomkool wat sulke pragtige lemmetjiegroen koppe maak) staan teen hierdie tyd amper menshoogte, hul stamme bykans 8 cm dik en die blaarspan by die meter. En hier kom ek met my skêrtjie en, mettertyd (uit pure radeloosheid) ’n Victorinox-mes om die stamme te probeer afsny. Weinig sukses.

Later klim ek bo-op die plantbak om die goed uit te trek, grillend vir die goggas, desperaat om nie die luise in te asem soos hulle in swerms opstyg nie. Sug. Die goed is darem nou uit. Maar dis nege maande se groei ongedaan – ek het hierdie outjies van saadjes gekweek. Dit laat mens wonder a) wat jy dan alles verkeerd doen en b) of dit regtig die moeite werd is. Dis immers nie asof ek in ons beperkte spasie ooit ’n groentetuin sal kan kweek wat in al ons behoeftes voorsien nie…

Gelukkig hou sulke gedagtes nie lank nie. Maak nie saak hoeveel van my plante in die stof byt nie, iewers sal daar iets groei en blom en dra. Wanneer die Suidooster uiteindelik ’n bietjie gaan lê, begin die Engelse Abraham Darby-roos (foto heel bo) opnuut lote uitstoot, gevolg deur groot, swaar blomknoppe met digte, blospienk blare en die allerlieflikste geur.

En hoewel daar tans ’n trop wurms lang, dun tonnels deur my tamaties vreet, gaan die eiervrugte wat tussen hulle staan, heel goed aan, vorm hulle die mooiste purper groente wat gestand doen aan hul naam: Black Beauty.

eiervrugte’n Entjie verder in die tuin ontdek ek vanoggend dat daar onder die murgpampoentjie se blare, buiten sy pampoen-oranje blomme, ook ’n paar volwasse groente begin skuil.

murgpampoen
Ek loop deur die tuin en tel my oes op: 1 soetrissie, 3 eiervrugte, 2 ryp tamaties en 5 murgpampoentjies. Dis nie ’n groot opbrengs nie, maar dis genoeg vir ratatouille saam met gister se braaivleis. Dis genoeg vir vandag, hierdie een dag. Vanaand kom al ons groente uit my klein kombuistuin.

Die wete laat my hart sing.

Oomblikke soos hierdie maak alles die moeite werd. Dan besef ek: tuinmaak is eweneens ’n les in nederigheid én hoopvolheid. Môre sal ek eenvoudig wéér romanesco-saadjies saai, met die droom dat ons, kom winter, aan daardie skelgroen blomkoppe kan smul. Die hoop beskaam nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s