Pienk hasies met vars aarbeie (inderdaad)

aarbeie voor
L
aatmiddag grawe ek in die yskas en kom af op ’n houertjie aarbeie waarvan ek effens vergeet het, met positiewe gevolge. Positief vir die aarbeie, want hulle is nou goed ryp en stroopsoet. En positief vir my, want ek is lus vir wat in ons huis bekendstaan as ’n vakansiedrankie: iets effens uitspattigs.

Vroeër die week het ek iewers gelees dat aarbeie en rose deel is van dieselfde familie, wat waarskynlik verklaar hoekom sommige rose ’n sweempie aarbei in hul geurnote het. Dus: die idee vir ’n skemerkelkie met aarbeie, rooswater en gin. Die gevolglike konkoksie is uitermatig vroulik en vrolik in karakter. Net wat die dokter bestel het vir ’n stil, windlose aand in Woodstock . Ons sit buite met The National se musiek in die agtergrond, spesifiek hul skitterende album Trouble will find me. Die snit Pink Rabbits kom op en ek dink, ja, presies.

aarbeie na

Pienk hasies met vars aarbeie
Lewer 2 drankies

Bestanddele:
6 medium ryp aarbeie, afgespoel en stronke afgesny
2 t strooisuiker
4 T suikerstroop*
2 sopies jenever
soda- of vonkelwater
1 t rooswater

Metode:
1. Sny die aarbeie in skywe en strooi die strooisuiker oor; laat staan vir sowat 10 minute todat die bessies ’n stropie begin vorm.
2. Blits die aarbeie saam met die suikerstroop in ’n voedselmenger tot glad en gooi dan deur ’n sif om die pitte te verwyder.
3. Verdeel die versoete aarbeisap tussen twee glase en voeg by elkeen by 1 sopie jenever, ’n halwe teelepel rooswater en ’n blokkie ys.
4. Roer en voeg soda- of vonkelwater by na smaak.

* Om suikerstroop te maak: voeg gelyke hoeveelhede suiker en water in ’n pot (byvoorbeeld 1 k water tot 1 k suiker), kook en roer tot die suiker opgelos het. Laat behoorlik afkoel. Dit hou lank in die yskas en is handig om in die rondte te hê vir skemerkelkies.

Want mens weet nooit wanneer jy ’n vakansiedrankie gaan nodig kry nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s